Geagte Redaksie

Noudat ek weer Hermann Hartfeld se boek Glaube trotz KGB lees, kom ek uiteindelik so ver om aan u te skryf. Die boek is ook in Engels beskikbaar. Hartfeld skryf oor sy eie en ander Christene se ondervindings onder die KGB in die tyd van Chroesjtsjof se regering in Rusland.

Wat my besonder opval in die boek is die volgende:

  • Gedurende die gesamentlike gevangenskap oor die geloof in Christus, verval alle kerklike grense. Die geloof in ons Here Jesus Christus, sy liefde en verlossingswerk is die essensie in sulke omstandighede en almal ondersteun mekaar en beoefen broederlike liefde.
  • Die navolging van Christus se voorbeeld staan voorop. Dit beteken onder andere dat daar vir die vyand gebid word en dat die vyand of mishandelaar met liefde behandel word. Die Christen tree anders op as wat deur die wêreld verwag word.
  • Daar is die vertroue dat God teenwoordig is, maar ook die menslike mismoedigheid waarteen geveg word. Hierdie mense het die behoefte om te weet dat ander gelowiges êrens in die wêreld vir hulle bid, sodat hulle kan volhou om sterk te staan teen die vyand van Christus en sy volgelinge.

My waarneming is dat ons baie selde in ons Kerk aan hierdie mense dink, dalk net vir ’n oomblik as daar ’n bohaai in die nuusblaaie gemaak word oor ’n spesifieke gebeurtenis. Dit is asof daardie mense nie deel is van ons gemeenskap van gelowiges nie.

My voorstel is dat ons elke Sondagoggend voor die erediens ’n kort verhaal van geloofsvervolging moet lees en ’n kort gebed doen vir vervolgde Christene oor die algemeen. Dit sal ons in aanraking bring met voorbeelde van lewende geloof, sodat ons betrokke sal wees by die groter geloofsgemeenskap en ’n bydrae van liefde kan lewer. Dit maak my nederig en laat my besef dat daar nog baie ruimte is vir geloofsgroei. Dit moenie ’n emosioneel gelaaide sessie wees nie, net bewusmaking van die nood van ander gelowiges, vir wie ons iets kan beteken deur voorbidding, en deur wie se voorbeeld ons iets omtrent ons eie geloof kan leer. (Verkort)

Alma Hattingh