Vrouedag vier sterk vroue, Uniegebou- en kaalvoet-oor-die-Drakensberg-vroue, pasboek- en bergpasvroue. Dis diep.

Hierdie jaar lewer Vrouedag toe ’n nuwe Mejuffrou Suid-Afrika op.  

Dis vlak, so sê die twiete. Argaïes, ’n terugslag en ’n klap in die gesig van die voortgaande stryd wat vroue voer om gewaardeer te word vir iets anders as voorkoms en seks, want vroue word steeds nie eens naastenby na waarde geskat nie. Om in hierdie tydsgewrig nog vroue te takseer op uiterlike skoonheid, die “mooiste” van hulle dan “ambassadeur” te doop en ’n “nasionaal verteenwoordigende rol” toe te dig, net om teen nóg ander vroue te gaan meeding om ’n “wêreldtitel” (nee, ’n “heelaltitel”!) is voortgaande vergryp aan vrouwees en ’n verfoeilike vernedering vir alle vroue wat veg vir staanplek en erkenning. Deelnemers behoort hulle te skaam!

Hier kom sy nou, en dit gons onder trotse twieters (ja, daar is van hulle ook – so gaan dit op Twitter: Elkeen het ’n sê, en almal skreeu). Eindelik ’n Afrikaan! sê hulle. (Dat dít al “rassisme” skreeu, ignoreer ek, voorlopig.) Onbeskaamd vrou van Afrika, wat geen poging aanwend om haar natuurlik stywe krulle onder ’n pruik te verberg nie. Trouens, die meeste deelnemers was vanjaar beduidend “anders”, “verteenwoordigend,” so word gesê, “van regte vroue”.  

Sy is duidelik self ook ingenome, emosioneel. ’n Wêreld (maar dalk net die ou wêreldjie waar patriargie voel vroue hoort?) gaan vir haar oop.

In Brittanje het ons van dié skoonheidskompetisie heeltemal vergeet. Geen uitsaaier beeldsend iets daarvan of verwys eers in die verbygaan daarna nie, só erg is die walging daaraan. ’n Dokumentêre program wat wel die weersinwekkende spektakel wou deurkyk (want dit gebeur, kan jy glo, régtig nog, in agterlike wêrelddele!), se jongste beeldmateriaal van die Mej. Wêreldkompetisie was terugflitse waarin ’n kiertsregop Anneline Kriel in geradbraakte Engels haar besorgdheid oor ’n vriendin uitspreek.        

Ek is ’n man, en ek verdien seker nie die reg om my oor sulke sake uit te laat nie?  Objektiwiteit bestaan in ieder geval nie, en wat ek ook al kwytraak, gaan my onder kruisvuur sit. Met die wete dat ek dit hier uit my eie hoek sien en dat dit daar van jou af anders mag lyk, gaan ek nek uitsteek en sê: Ek het ’n broertjie (of ’n sustertjie, dalk, in dié geval?) dood aan voorskriftelike politieke korrektheid wat vir vroue kom staan en vertel hoe hulle moet wees.  

Met hoe hulle kan en mag wees, het ek min moeilikheid.

Ek het drie vroue voortgebring en grootgekry. Hulle is nou nog, en was altyd, ’n seën, maar nie een van hulle eet gulsig aan sommer enige soetkoek nie. Die manne in hul lewe moes leer jy vat hierdie meisies nie vlak nie, en min het tot dusver daarin kon slaag. Helaas, dis my skuld! My mantra was: Leer vir jouself sorg, Meisiekind, want mans, mans vat die pad.  Ek het intussen die wag voor my eie mond die nuwe vereistes van ons tyd moes leer. Ek is en bly nou maar ’n man, en die vroue van my huis is lankal nie meer dogtertjies wat van Wimbledon af wêreldwyd gehoor kan word, maar net skree wat en wanneer hulle mag nie.

Haar naam is Zozibini Tunzi. Sy staan daar, kroon op die kop, en dis duidelik sy wíl daar wees, daar waar sy nou is. Ek gun haar dit. Ek dink nie sy wil hoor sy is die produk van regstellende aksie nie. Dis vernederend. Ek dink nie sy wil hoor sy is net daar weens ’n kwotareëling nie. Dis verontregting. Ek hoop sy oorleef die hatige nyd van die vreesaanjaende feministe. Met hierdie kroon gaan hierdie vrou nie die wêreld regeer nie, nie nou al nie. Maar sê nou net sy wil?

Dis wat sy wil wees, wat sy ook maar mag word. Vandag is sy ’n skoonheidsikoon. Dis eg, nie noodwendig “reg” nie, maar háár reg. Ek hoop Vrouedag, en Vrouemaand, vier egte vroue. Want toe Jesus die dag deur ’n Kanaänitiese vrou in ’n hoek gedryf is, het Hy haar laat wees wat sy is: Kanaäniet en vrou. Én Jesus het haar tafel toe genooi. Want jy behandel geen vrou soos ’n hond nie (Matt 15: 21vv).

Zozibini Tunzi, foto: Twitter

af
af
Deel met behulp van
Copy link