Die groot trek Brittanje toe was om verskeie redes moeilik.

My biblioteek sou moes agterbly. Ons kon die minimum basiese items saamvat, en net my boeke was al ’n kamer en nog ’n paar boekrakke vol, elkeen van hulle al gelees, sommige so lanklaas dat hulle hand opsteek soos kleuters wat die antwoord weet.

My fokus vir saamvat, sou moes wees op ekumene in die sendingveld, maar hoe langer ek voor die rakke gestaan het, hoe beter was die argument om tog maar wyer te kyk, en die stapeltjie het aangegroei tot ’n hoop. Ek moes weer uitdun, en weer en toe nog ’n keer. Eindelik was daar net ’n paar kardoesies vol. (’n Paar geliefde tekste is ingesmokkel.) Die res sou die nuwe dominee dan maar gebruik, of van kant maak (want die boeke kom mos maar uit my blink-ogies-en-pienk-wangetjies-tyd, te oud vir opkomende geslagte). Ek het daarvoor nie kans gesien nie; ek het nou nog nagmerries oor die boek wat ’n paar van ons by ’n vleisbraai om ons legitimasie te vier, plegtig geoffer het. (Ons praat nie uit nie!)

Preek jy minder, mis jy die boeke eers nie. Maar wat ’n vyfjaarreis moes wees, het na nege toe gerek, en bloed is dikker as water. Skielik staan ek weer getoga maar boekloos op ’n Hervormde kansel. Nou kyk, ’n mens kom ook net so ver met ou preke – soms lees jy die goed en wonder jy of al die boeke regtig gehelp het. O, God se geduld en die Kerk se verdraagsaamheid!

Intussen het ek daar in die vreemde die internet ontdek, ’n snelgroeiende aanlynbron van geskrewe goed van wisselende waarde: preke uit al wat ’n geloofstradisie is, wat sifting noop. Dit help my nie veel nie.

Ek soek hulp met eksegese en leiding met teologie en dalk ’n homiletiese wenk of twee.

Met leenpreke het ek groot vrede; ek het al preke teëgekom wat ek sonder wroeging woord vir woord van my eie kansel af sou kon lees. Maar al is daar ook hóéveel hiervan geredelik beskikbaar, dit kan nie die norm word nie. My eie ontmoeting met God in die teks, terwyl ek vanuit my eie gemeente, gelowig en krities oor ons eie teologie besin, is ’n heerlike avontuur en ’n ononderhandelbare voorreg. Só en nét so beleef ek dit dat God met my en ons gemeente praat. Dís wat ek sou wou hê hierdie gemeente nou moes hoor.

Ek is nou al een van die “ou dominees” in die Kerk. Glo my, ek het regtig my bes gedoen om by te hou met die antieke tale, eksegetiese metodes en hermeneutiese dissiplines, tradisies en opkomende teologie. Maar ek het hulp nodig, en ek kry dit nie.

Een van die reekse boeke wat in die studeerkamer agtergebly het, was Woord teen die Lig. Die enigste rede waarom ek hulle hier gelos het, was dat ek hulle teen daardie tyd al deurgepreek het. Die waarde van dié reeks was daarin geleë dat dit ’n dominee die studeerkamerwerk wat vir Sondag se prediking en erediens nodig is, help doen het.

Hier is wat ek nie op die internet vind nie, helaas, ook nie by Hervormde Teologiese Studies (HTS) of Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT) nie: ’n aanlynplatform waar ek aan die hand van Bybelteksverwysings (en ander filters), tekste perikoop vir perikoop kan naslaan, en eksegese, uitleg en hermeneutiese besinning oor dié Bybelse teks kan vind wat, op gesonde wetenskaplike gronde, homiletiese voorstelle maak met verwysing na ons Hervormde geloofstradisie.

Die denominasies wat gebruik maak van ’n vasgestelde lees- en preekrooster het http://www.textweek.com/, wat seker die naaste kom aan wat ek voorstel.

Ek sou só graag meer hulpmiddels, boeke en bundels soos Woord teen die Lig wou sien verskyn.

Ek sou hoog op prys stel dat die teologiese opleiding Skrifuitleg met die oog op prediking vooropstel en studente se pennevrugte publiseer, veel meer as die tematiese studies wat vir die weekliks prekende predikant weinige praktiese toepassing het. Nie net om die studente se onthalwe nie, maar ook myne: Ek sou sulke studies verslind en vir preke gebruik.

Ek twyfel nie daaraan nie dat dit die hartswens van elke dominee van die Kerk is, jonk én oud, om op ons kansels met vrymoedigheid die waarheid te kan praat. Somtyds is die week daarvoor te kort.

Ons weet almal waar ons hulp vandaan kom. Dit is die ondersteuning van mekaar wat ook sal help.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link