…En as julle oor die wêreld sal oordeel, is julle dan onbevoeg vir sulke geringe hofsake? Weet julle nie dat ons oor die engele sal oordeel nie? Dan tog seker ook oor alledaagse dinge. As julle oor alledaagse dinge geskille het, laat julle dan dié mense as regters optree op wie die gemeente neersien? (1 Kor 6: 2-4)

Paulus waarsku hier teen litigasie in “geringe hofsake” en “alledaagse dinge”. Die hofsaak wat die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) tans in die wêreldse howe voer, is allermins “gering” of “alledaags”. Dit gaan hier oor kerkskeuring wat as sonde beskou word, en tweedens oor dit wat lidmate van die NHKA bely en glo.

Die wegbreekgemeentes (wbg’s) het verklaar dat lidmate van die NHKA ketters is. Die lidmate van die NHKA is dus besig met ’n dwaalleer. Hulle het van die Bybel en die geloofsleer afgedwaal.

Hoe dwaal die lidmate van die NHKA volgens die wbg’s? Die NHKA het gesê dat apartheid nie Bybels-teologies geregverdig kan word nie. Die wbg’s sê dat ’n Christen nie kan sê die Gees van die Drie-enige God werk in die mens nie, soos ons sê en sing; of dat die Heidelbergse Kategismus, wat ons as riglyn volg, kan verklaar dat ’n klein gedeelte van God in die mens agtergebly het na die sondeval anders sou die mens nie kon onderskei tussen reg en verkeerd nie.

Waarom hierdie artikel? Daar is verskillende menings en persepsies oor wat die hof op 7 Maart 2022 sou besluit het en wat die NHKA nou moet doen. Sommige sê “die Kerk sê” ons moet nou die hofsaak laat vaar vir verskeie redes. Wat ek nie weet nie, is waarop die menings en persepsies en stellings gegrond is.

As ons nou wil wegloop van die hofsaak, moes ons nooit begin het nie. Dit was van die begin af duidelik dat hierdie ’n moeilike en lank uitgerekte saak sal wees met die gepaardgaande koste.

Om ’n mening of standpunt oor die saak te hê of te stel, is dit baie belangrik om na die saak en die proses in sy geheel (holisties) te kyk. Iemand wat net na die uitspraak van 7 Maart 2022 kyk, is soos iemand wat na die wêreld deur die oog van ’n naald kyk.

Dit is amper onmoontlik om in besonderhede in hierdie artikel na al die feite te verwys. Die chronologiese volgorde is kortliks soos volg:

  • Nadat die besluit oor die Bybels-teologiese regverdiging van apartheid geneem is, was daar gemeentes wat wou wegbreek. Behalwe een gemeente, het al die ander wbg’s presies dieselfde skema gevolg. Hulle het verenigings gevorm, die gemeente-eiendom aan die vereniging geskenk en oorgedra, en daarna het die onderskeie gemeentes weggebreek. Iets waarvoor geen voorsiening in die Kerkorde gemaak word nie.
  • Die aksies van die wbg’s het “in die geheim” plaasgevind. Die onderskeie ringe en die Raad van Finansies, of die Kerk, is nie hieroor ingelig nie. Toe die Kerk agterkom wat aan die gang is, het daar verskeie regsaksies oor en weer gevolg in meer as een provinsie.
  • Die veelvoud van aksies het daartoe gelei dat die regter-president van die hoër hof in Gauteng besluit het om ’n regter as saakbestuurder aan te stel.
  • Verskeie vergaderings, debatte en argumente het in die teenwoordigheid van die regter asook skriftelik gevolg, oor ’n periode van ongeveer twee jaar. Die uiteinde van die proses was dat die wbg’s die Kerk sou dagvaar in een gekonsolideerde dagvaarding. Hulle is dus die eisers en die Kerk die verweerder. Hierdie dokument is belangrik. Nie net die wbg’s het die Kerk gedagvaar nie, maar – belangrik – ook die verenigings. Die verenigings het hulle dus self deel van die geskil gemaak.
  • Wat het die eisers (wbg’s en verenigings) gevra? Hulle het die hof gevra vir ’n bevel dat gemeentes met meerderheidsbesluit, sonder enige beperking, hul eiendom kan vervreem. Die Kerk (verweerder) het ’n bevel gevra dat die hof bevind dat die wbg’s nie die bevoegdheid het om die eiendom onbelemmerd te vervreem volgens die skema wat hulle ontwerp het nie. Dit volg dat as die wbg’s nie die bevoegdheid gehad het om te vervreem nie, hulle ultra vires (buite hul bevoegdhede) opgetree het en dat die skenkings daarom nietig is (asof dit nooit gemaak is nie). Die Kerk het nie die skenkings aangeval nie en die eisers het nie gesê dat sogenaamde privity of contract geld nie. Privity of contract beteken dat slegs die partye tot ’n kontrak (die skenking tussen die wbg’s en die verenigings) oor daardie kontrak hof toe kan gaan. Dit is so om te verhinder dat enige persoon ’n ander hof toe kan neem oor ’n kontrak waarby die eerste persoon geen belang het nie. Die Kerk het ook namens die gemeentes waar geen lidmate oorgebly het nie ’n teeneis ingestel, wat vir die doel hiervan nie belangrik is nie. Die ander gemeentes van die Kerk was nie ’n party tot die dagvaarding nie, omdat die eisers en verweerder ooreengekom het dat alle ander regsaksies “gevries” word sonder dat verjaring sal geld – en dat daardie eise dus nie sal verval nie.
  • Die kernargument van die Kerk is dat die Kerk ’n eenheid in geloof en belydenis is en ’n gemeente die wyse is waarop die Kerk op ’n bepaalde plek bestaan (die sogenaamde unity theme).
  • Die dagvaarding het egter nie die probleem opgelos nie. Die regter, wat die saakbestuurder was, het op 11 Junie 2018 ’n bevel in die hof gemaak dat daar volgens die hofreëls ’n geskeide saak sal wees. Dit kan baie kortliks soos volg saamgevat word: Met inagneming van die Kerkorde, kan ’n gemeente wat ontevrede is met die Kerk wegbreek en die eiendom van die gemeente saamneem deur ’n meerderheidsbesluit te neem op ’n gemeentevergadering? Dit was die saak waarop al die partye voorberei het vir die verhoor op 25 Januarie 2022.
  • Toe ons op 25 Januarie by die hof opdaag, het die regter die regsverteenwoordigers na haar kantoor geroep en gesê dat sy wil hê hulle moet haar toespreek oor die privity of contract-beginsel. Die Kerk het onmiddellik toegegee dat ons geen belang by die skenkingsooreenkoms het nie. Die eisers se saak en die verweerders se saak gaan net oor een aspek, naamlik die bevoegdheid van ’n gemeente om sy eiendom te vervreem as hy van voorneme is om weg te breek. Een van die Kerk se argumente was dat die wbg’s ’n skema gevolg het om verby die Standertonsaak te kom, wat altyd die basis was waarop die NHKA sy kerkbegrip gevestig het, naamlik dat indien lidmate wegbreek en daar bly een lidmaat oor, daardie lidmaat die gemeente is en geregtig is om die eiendom van die gemeente te behou. Die dispuut gaan dus suiwer oor die kontrak tussen die Kerk en lidmate, naamlik die Kerkorde waar privity of contract nie geld nie. Dit gaan nie oor die skenkingsooreenkoms tussen die wbg’s en hul verenigings nie.

Die Kommissie het, in die lig van die voorgaande, besluit om aansoek te doen om teen die beslissing van 25 Januarie te appelleer, op grond van die volgende:

  • Die regter het nie die saak wat die sakebestuurregter op 11 Junie 2018 vasgestel het, beslis nie.
  • Die regter het gefouteer deur op haar eie ’n geskilpunt te formuleer en nie na die saak tussen die eiser en verweerder te kyk soos dit in albei partye se hofstukke uiteengesit is nie, en die geskeide saak wat voor haar gedien het, behoorlik te oorweeg nie.
  • Sy het ook nie beslis oor die bevoegdheid, in die lig van die reg en die Kerkorde, van die wbg’s om deur meerderheidsbesluit weg te breek nie. Die probleem is nie opgelos nie en sal bly voortbestaan, ook verder as net by die NHKA. Die geskil is nie net ’n akademiese probleem en dus “moot” soos die regter bevind het nie.
  • Die regter het ook die kostebevel verkeerd gekry.

(Adv Joël Fourie is voorsitter van die Litigasiekomitee en ouderling in Gemeente Midstream)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap