Beeld berig vanoggend (Woensdag 25 September 2019) dat die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika sou besluit het vroue is nou nie meer swakker nie, en dat ons op sterkte van hierdie gewaarwording die drie huweliksformuliere wat nie hiermee ooreenstem nie, herroep het.
Dis te verstane dat so berig is, maar dis ook nie heeltemal waar nie. Ons het drie huweliksformuliere met ’n nuwe vervang. Die Kerk het tot die insig gekom dat hierdie verstaan van die Skrif kultureel beïnvloed is. Die Bybel lyk vir ons duidelik daaroor dat mans en vroue as gelykes geskep is en beelddraers van God is. Vroue is nog altyd mans se gelykes. Dit verander nie nou met hierdie besluit van die Kerk nie. Dit staan so in die Bybel. Ons kultuur het veroorsaak dat ons dit nie raakgesien het nie, of nie reg verstaan en toegepas het nie. Daarom is die nie meer nie nié wat die Kerk besluit het nie. Die Kerk het besluit dat vroue nie “die swakker geslag” is nie.
Waarom dit nou besluit? Die Kerk is ernstig besorg oor die minagting van en die huidige afgryslike geweld teen vroue (en kinders). Die Kerk kan nie handjies gevou toekyk nie. Die Kerk gaan op geen manier aandadig word aan die kulturele verwording wat vroue afmaak as minderwaardig en tweederangs nie (wat dan weer sou kon aanleiding gee tot gruwelike geslagsgeweld en misbruik).
Wie sy hand lig teen ’n vrou en haar geweld aandoen, is net so skuldig aan en strafbaar vir geweld en moord, as enigiemand anders wat geweld pleeg.
Die Kerk het wel waardering vir die beriggewing oor die Algemene Kerkvergadering in die stal van Netwerk24.
Die feit dat God in Genisis die vrou straf en sê die man sal oor jou heers het haar eerste stand as gelyke verander. Die feit dat geweld teen vrou so erg opleef het eerder te doen met alle organisasies wat God se word minag, die opdrag. Die man wat sy plig wil nakom, sy vrou lief he en oor haar heers, beteken tog om haar op te pas en te beskerm maar sy moet in die beskutting en beskikking van God se woord lewe, die kind moet getugtig word, die werk en sweet moet deur die man verrig word. Nou kom self die kerk wat veronderstel is om dit te weet en sê Ja ons het n fout gemaak. Kan ons dalk verstaan hoekom die kerk leegloop en geweld teen vroue en kinders meer sal word, KERK STAAN OP EN LEER GOD SE WOORD NIE DIE NUWERWETSE DINGE WAT JULLE WIL KWEITRAAK NIE. Ek skaam my vir die kerk se onbybelse wyse om die wereld selfs verder te mislei. Sies.
Tobie, dankie dat jy deelneem aan n belangrike gesprek. Dis duidelik jy voel sterk hieroor. Weet jy, die Hervormde Kerk deel jou passie vir die waarheid van God se Woord.
Jy het reg, die sondeval het ons gelykheid verongeluk. Toe kom Jesus die sonde en die uitwerking van die sonde wegvat. Toe verander God alles. Ons is nuwe skeppings. Nou staan daar in tekste soos Galasiërs 3 : 28: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.” En in Efesiërs 5 : 21 staan daar: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” Ek dink saam met en soos die Kerk dit beteken: Sorg vir mekaar soos Christus vir ons almal sorg. Ja, daar staan ook duidelik weer, in vers 22: “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.” en in 23: “Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk.” En weer eens, in 24: “Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.” Ons het dit raakgesien, en ons glo dit onverswak. Dan kom vers 25, en dis wat nou ook in ons huweliksformulier meer klem gaan kry: “Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.” Jesus sê mos Matteus 20 : 28 “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” En weer in Lukas 22 : 27 sê Jesus: Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien.” Die Kerk sou mos onverskillig wees as ons nie hierdie tekste van God se Woord ook ter harte neem nie? Juis dit sou onbybelse misleiding wees. En nee, dis nie nuwerwets nie, dit staan daar. Wat nuut is, en onhoudbaar geword het, is dat mans vroue meer as ooit verniel. As die Woord van God daarteen praat, mag ons dit nie vir onsself hou nie.
Baie netjies gestel. Die Kerk het standpunt ingeneem teen ‘n verwronge etiek.
Dankie Gerhard.
Almal gelyk voor God. . . (Die Hervormer van Nov./Des.)
Dis onsin! Daar is verskillende volke met verskillende kultuurgebruike. En nou verander ons Kerk ook nog die huweliksformulier vir gelykheid en gelyke regte vir almal. Dis nogal polities korrek. Maar Kerk moet pasop om nie LIBERALISTIES te word nie, deur al’s van die verlede te wil hernuwe nie.
“Ek sal vir hom `n hulp maak. . .” So sê Genesis 2 vers 18. “En na jou man sal jou begeerte wees,en hy sal oor jou heers.” (Genesis 3 vers 16).
Hennie la Grange verwys na Efesiërs 5 vers 25: “Mans, julle moet julle vrou liefhê” en wat daarop volg. Maar lees ook Efesiërs 5 : 33 ″en die vrou moet die man eerbiedig“ `n Man en `n vrou trou,omdat hulle mekaar liefhet!
Ek dink nie Christus het die Ou Testament tot niet gemaak nie. In Efesiërs 6 vers 10 sê Paulus: “my broeders”. Daar was 12 apostels: mans. Lukas 10 sê van Martha en Maria die een moenie die ander “alleen laat bedien nie” (v.40) m.a.w. die vrouens moes die mans bedien. Dis oor die menseREGTE dat dit in ons land gaan soos nou. Waar is die verantwoordelikhede?
Dat mans vroue meer as ooit verniel? U moet die wortel van die kwaad gaan soek! Die veranderde huweliksformulier gaan dit nie beter maak nie.
U moet onthou Christus hou sy kerk in stand.