Hy was bloot besig om te draf op ’n rustige, sonnige middag in ’n stil straat op ’n klein dorpie. Toe – ’n enkele skoot. Dood. Geen bedreiging. Geen roof. Geen haat. Geen woede. Geen rede. Niks…
Die moord op die 22-jarige student Christopher Lane in 2013 in Oklahoma het destyds wêreldwyd opslae gemaak. ’n Onsinnige doodskoot, afgevuur deur ’n 16-jarige onder aanmoediging van sy twee tienervriende. Hulle het geen rede of motief gehad nie – hulle was, soos hulle later self verklaar het, net verveeld. En toe draf iemand in die straat voor die huis verby…
Ons ken die algemene motiewe vir moord – soos gierigheid, geslagsgeweld, godsdiens, politieke redes, vergelding, geestesversteurings, rassehaat, en ook die uitskakeling van opponente, fluitjieblasers of getuies. Maar wát as daar géén motief is nie?
Dan staar jy ’n ander boosheid in die oë – een wat half ongesiens dog baie sterk op die rand van ons samelewing groei. Dit het onlangs eers ’n naam gekry. Die FBI noem dit: Nihilistiese Gewelddadige Ekstremisme (NGE). Hierdie verskynsel het sy wortels in die filosofiese denkrigting nihilisme wat volgens filosofieprofessor Alan Pratt die oortuiging is dat alle waardes ongegrond is en dat niks werklik geken of oorgedra kan word nie – ’n ekstreme pessimisme en radikale skeptisisme. Nihilisme is ’n komplekse filosofie, maar hier fokus ons op gewelddadige uitvloeisels daarvan.
Nihilistiese gewelddadige ekstremiste word in elk geval selde met diep filosofiese denke geassosieer – die meeste van hulle het waarskynlik nog nooit eens die woord nihilisme gehoor nie. Hulle glo nie in iets spesifieks nie – hulle glo en voel niks. Dit is nie militante ateïsme of aktiewe ongeloof nie, maar ’n apatiese ontkenning dat enigiets betekenis of waarde kan hê. Dit is nie ’n doelbewuste verwerping nie, maar ’n afgestompte lewenshouding wat ontspring uit die oortuiging dat daar géén sin of morele orde is of kan wees nie. Niks maak regtig saak nie. Nie waarheid nie. Nie goed of kwaad nie. Nie jyself nie. Nie ander nie. Nie God nie. Níks nie.
Ons was verveeld, het die tieners in die Christopher Lane-saak gesê. Daardie woorde sny soos ’n yswind deur ons samelewing. Jy hoor dit wanneer jongmense sê: Wat help dit? Jy sien dit in memekultuur, in donker TikTok-video’s en in sinistere aanlynforums waar ’n nuwe term begin posvat het – die swart pil, ’n term vir die wanhopige (en paradoksaal, trotse) aanvaarding dat die wêreld korrup en onredbaar is, dat ons verlore is, dat niks ooit beter gaan word nie – en dat niks wat ek doen saak maak nie.
Terwyl die rooi pil (van The Matrix) die waarheid verteenwoordig, beteken die swart pil om alles op te gee. Op die donkerweb krioel dit van jongmense wat hulself beskryf as blackpilled – jy sluk die swart pil sê hulle en jy begin alles sien as tekens van die ondergang. Jy spot met hoop. Jy vier wanhoop en help die vernietiging aan.
Dit is hierdie wêreldbeskouing wat al gelei het tot selfmoordbomaanvalle en ander gevalle waar die aggressor geweet het dat dit hul eie einde gaan beteken. ’n Fiksasie met temas soos wanhoop, isolasie, eensaamheid, futiliteit, of die einde-van-die-wêreld is immer teenwoordig.
In Mei vanjaar het ’n bom ontplof wat Guy Edward Bartkus buite ’n vrugbaarheidskliniek in Palm Springs Kalifornië geplant het en in dieselfde maand is ’n tiener in hegtenis geneem vir ’n beplande massamoord in ’n winkelsentrum in Washington. Die FBI sê in albei gevalle is ’n nihilistiese gewelddadige ideologie te bespeur. Die lys word langer. En jonger.
Dit sypel die samelewing stadig binne. Dit begin met isolasie. Dan kom die verveling, gevolg deur ’n vergeefse soeke na iets, enigiets, wat sal maak dat jy iéts voel. En wanneer niks sin maak nie, raak geweld ’n gegewe. Dit is mense wat nie in bou glo nie – nét in afbreek. Soos ’n kind wat ’n ander een se Legoskepping omskop – nie uit woede nie, maar omdat hy niks daarin kan sien nie. Hulle saai nie chaos om iets te bereik nie, maar omdat chaos die enigste ding is wat hulle ten minste iets laat voel.
Vir gelowiges is hierdie realiteit nie bloot ’n sosiologiese of sielkundige probleem nie – dit is ’n geestelike krisis. En dit gebeur nie net elders nie. Hoewel ons in Suid-Afrika tot dusver sinnelose skoolskieterye grootliks vrygespring het, is ons samelewing geensins immuun teen hierdie gevare nie. Inteendeel – emosionele afgestomptheid en onverskilligheid, gevoelens van sinloosheid en wanhoop, en die allesoorheersende vraag: Wat maak dit tog saak? skiet ook onder óns neuse vinnig wortel.
NGE is ’n direkte aanval op die kern van wat ons glo – dat elke mens uniek geskape is, met ’n doel, waarde en roeping, met ’n hoopvolle toekoms. Teenoor die doodse leegheid van die groot niks vind ons lewensvervulling in God wat sê: Jy is Myne. Vir die een wat sê: Alles is niks en niks is alles!, sê Jesus Christus: Kyk, Ek maak alles nuut. Wanneer die swart pil sê: Gee op!, sê Hy: Gee oor! Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is…
Ons verkondig en lewe ’n Lig wat in donker plekke skyn – en God se genade wat genoeg is om elke lugleegte te vul. Kerke moet onvermoeid veg teen gevoelens van sinloosheid deur elke woord van liefde, elke daad van hoop en elke sinvolle verhouding. Ons roeping is om die vlam van betekenis aan te steek en hoog te laat brand – een ontmoeting, een erediens, een gesprek, een jong mens op ’n slag. Om te veg téén die niks, dít is álles.