Ons leef in ’n era van stemme – báie stemme. En daar is tallose forums en platforms wat eietydse seepkiste bied om daardie stemme te laat hoor: Van openbare dialoë tot dramatiese TikTok-video’s; van aanlynmedia se kommentaarkolomme tot eindelose Facebookdebatte; van raadsale en ander vergaderings tot besige WhatsApp-groepe. Elkeen het deesdae ’n (dikwels luide) opinie. Elke stem eis aandag op, maar of almal se bydraes regtig sinvol is, en of al die gepraat uiteindelik ’n verskil maak, is ’n ope vraag.
In 1999 het David Dunning en Justin Kruger ’n omvattende reeks eksperimente gedoen wat gou wêreldwyd aandag getrek het. Hul gevolgtrekking? Hoe minder jy van ’n onderwerp weet, hoe slimmer en kundiger dink jy jy is. Hoekom? Omdat ’n mens ’n sekere vlak van kennis nodig het om jou eie gebrek daaraan raak te sien. Sonder hierdie insig leef ’n mens gemaklik in die waan van jou eie briljantheid. Hoe ongemaklik dit ook al mag wees, was die Dunning-Kruger-effek nog nooit so relevant soos vandag nie. Hoe onkundiger jy is, hoe meer oortuig is jy dat jy ’n gerekende kenner is. Natuurlik is almal geregtig op hul eie opinie – maar niemand is geregtig op hul eie feite nie.
Sokrates het dit lank gelede reeds goed verstaan: Hy is die wysste van almal, het hy gesê, omdat hy weet dat hy nie weet nie. Die kontras is skreiend: Sommige stemme skree hard, onbewus van hul eie blindekolle; ander praat sag of bly stil, juis omdat hulle die diepte van die onbekende besef. Ons leef egter in ’n wêreld waar stilte nie meer as ’n deug beskou word nie – en soms word dit selfs as ’n wapen deur die hedendaagse digitale kultuur ingespan (byvoorbeeld in gevalle van sogenaamde ghosting).
Die selfverklaarde spesialiste glo hulle drá die vergadering, terugvoer of debat, maar eintlik dra hulle net by tot die lengte van die notule, die ontsporing van ’n kommentaardraad of die sluiting van ’n Facebook-blad. Meer ink as inhoud…
En aan die ander kant van die vertrek sit die selftwyfelaars onopsigtelik teen die muur – dikwels met besondere kennis en insig, uitgebreide ervaring en gesonde oordeel, maar hulle verkies om stil te bly. Hulle voel te jonk, te oud, te ingetoë, bloot nie belangrik genoeg nie, onbekwaam, oorweldig, of selfs gemarginaliseer. Hulle is soms onbewus daarvan dat God juis die oënskynlik onopvallende gebruik – ’n enkele sin op die regte tyd, ’n beskeie bydrae wat die rigting genadiglik verander.
Navorsing deur die Brigham Young-universiteit toon aan dat gesprekke op sosiale media soos X, Instagram en Facebook dikwels gedryf word deur diegene aan die uiterste pole, terwyl die stille meerderheid in die middel fronsend toekyk. In die huidige aandag-ekonomie ding mense en maatskappye voortdurend mee om jou fokus. Jou aandag het ’n uiters waardevolle kommoditeit geword – dit bepaal watter produkte verkoop, watter idees gehoor word en selfs watter oortuigings voorrang geniet. Volume word beloon – ten koste van nuanse.
Die patroon strek wyd: Hoe swakker die politieke argument, hoe harder die geraas. Daar is ook altyd pawiljoen-kenners wat beter as die afrigter weet. In die werkplek kry die luidrugtiges dikwels krediet vir ’n stil junior se idee. Op ’n vergadering word ’n finansiële verslag uitmekaar geskeur deur iemand wat geen idee het hoe om die state te interpreteer nie. ’n Komitee stig ’n subkomitee; dié stel weer ’n ad hoc-komitee saam – nie omdat dit nodig is nie, maar omdat die gesprek iewers in die geraas ontspoor het.
En dan is daar die debatte wat swaar steun op Google-antwoorde, ChatGPT-resultate, voorstedelike legendes en die een of ander obskure WhatsApp-groep! Om van die verspreiding van fopnuus nie eens te praat nie. Wees baie versigtig vir daardie boodskap wat begin met: Dit is so pas amptelik bevestig…
Seneca het gesê: As jy wil leer, begin deur te luister. Teologiestudente leer sommer vroeg al in hul studies dat alle spreke oor God met swye behoort te begin. Jakobus skryf: Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie (Jak 1: 19). Luister is ’n haas verlore kuns. Ons wag nie meer om te hoor nie – ons wag om te antwoord. Terwyl iemand praat, formuleer ons reeds ons respons. Luister is vervang deur oordadige reaksie.
En tog bly luister die kern van wysheid. Sokrates het dit geweet. Seneca het dit beaam. En as die hoogste vorm van gesprek – teologie – by stilte begin, hoeveel te meer behoort ons ander gesprekke nie ook daar te begin nie? Stilte is nie die afwesigheid van bydraes nie; dit is die ruimte waarin waardevolle bydraes vorm kry.
Gesonde balans word nie in absolute stilte of oorverdowende lawaai gevind nie, maar in geloof wat geduldig wag, nederigheid wat luister, en die insig dat die beste bydraes soms in die eenvoudigste verpakking kom. Dít is wat ons wêreld nodig het – nie nog geraas nie, maar woorde wat tref; nie nog komitees nie, maar wysheid wat rigting gee; nie ekstreme menings nie, maar weldeurdagte argumente.
Want uiteindelik lê die genade van groei daarin om te leer om te onderskei wanneer ons moet praat en wanneer ons moet luister. En dáár lê ’n onverwagse wonderwerk – dat in ’n deurmekaar wêreld, ons tot stilstand, of tot aksie, geruk kan word deur ’n enkele diepsinnige oomblik van wysheid. In die woorde van Spreuke 25: 11: Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd.