Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde! (Psalm 8: 2 en 10)

Lees Psalm 8

Onthou jy hoe opgewonde ons oor klein dingetjies kon raak toe ons kinders was? Ek onthou hoe ons ’n tor aan ’n garingdraad vasgemaak het en die stomme dier al in die rondte laat vlieg het om ons te vergaap aan sy uithouvermoë. Ek onthou ook hoe ons voor die sywurms se kokonne gewag het om te sien as die mot uitkom. En ek onthou hoe ons met verkykers op die grasperk gelê en na die sterre gekyk het en hoe die grootsheid daarvan ons klein gemaak het.

Onthou jy hoe ons Sondae na die geloofsbelydenis geluister het en begryp het dat God onbegryplik groot is? Ons het dit in die veld gesien! Dit was spesiale tye. Tye toe optelhonde versorg is en die springbok wat Oupa gejag het versigtig bewerk is, bloot omdat ons verstaan het dat dit genade van Bo is om deel daarvan te wees. 

En toe word die mensdom groot, slim en belangrik. Op skerms leer ons van diere op ander kontinente, al ruik ons hulle nie. Ons leer insekte van naderby ken, al voel ons nie die hakkies aan hul voete nie. Met rekenaarprogramme bestudeer ons sterre uit baie hoeke, al sit ons onder plafonne. Terwyl ons daarna kyk, praat ons slim saam oor byna enige onderwerp en wonder ons hoe ons die inligting tot ons eie voordeel kan gebruik. Tussendeur is ons besig, besig, besig… Te besig om weer ’n tor te vang.

Vandag is die DBV vol wegloophonde en die stroompies waaruit ons bakhand gedrink het besoedel. Sondae prewel party van ons steeds dat God ’n almagtige Skepper is, maar baie ander het God nie meer nodig nie.

Kan die agteruitgang van moeder aarde daarmee te make hê dat die nagte onder die sterrehemel moes plek maak vir lewens voor hoëdefinisieskerms? Dat die verwondering oor God se almag plek gemaak het vir besige programme? Kan dit daarmee te make hê dat ons vergeet het hoe klein ons eintlik is teenoor God se almag?

Baie eeue gelede staan ’n eenvoudige man in die buitelug en vergaap hom aan die hemelruim. Hy is in vervoering oor die werk van God se vingers. Sy verwondering is so groot dat hy ’n lied daaroor skryf wat begin met die woorde: Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde! En terwyl hy dit dig, word God al groter en hy al kleiner.

En tog besef hy ook dat God die sterflike mens aangestel het om te heers oor die werk van sy vingers. Die blote gedagte daaraan gryp hom so aan dat hy die lied ook afgesluit het met die woorde: Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!

Miskien was hierdie digter nog soos ’n kind wat geweet het hoe min hy eintlik weet. ’n Kind wat hom kon verwonder aan die oënskynlike onbenullighede van die skepping. Dit was tog Jesus wat gesê het dat die koninkryk van God vir mense is wat soos kindertjies kan wees!

Wat het moeder aarde nodig om te herstel van al haar lyding? Nederige mense wat hul onkunde erken en God se almag bely!

Dalk moet ons weer onder die sterre gaan lê en bid dat God ons sal help om te besef hoe klein ons eintlik is. Net so klein soos die tor aan die garingdraad. Eers wanneer die mens weer klein word en sy dankbaarheid vir God se genade meer word, sal die manier waarop ons heers weer verantwoordelik word.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap