Vanaf Sondag 5 Oktober 2025 arriveer NHKA-predikante en afgevaardigdes van ongeveer 225 gemeentes by Gemeente Midstream Familiekerk in Pretoria vir die 74ste Algemene Kerkvergadering. Die atmosfeer gons met opgewondenheid soos universiteitsvriende mekaar weer sien en nuwe bande gevorm word, sommer met ’n worsbroodjie in die hand! Dit is ’n warm verwelkoming wat die toon aangee vir die vyf dae lange vergadering en beraadslaging wat voorlê. Dit bly ’n besonderse byeenkoms omdat byna alle NHKA-gemeentes verteenwoordig word en predikante, ouderlinge en vanjaar ook diakens bydra tot besluitneming oor die toekoms van die Kerk.

Op Maandag 6 Oktober is die amptelike verwelkoming en erediens deur die uittredende voorsitter van die Kommissie van die AKV, prof Wim Dreyer, behartig. Die geleentheid is ook bygewoon deur onder andere vennote van die Universiteit van Pretoria, die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Evangelical Lutheran Church in Southern Africa (ELCSA), en die Maranatha Reformed Church of Christ (MRCC).

Prof Dreyer se Skriflesing was uit Markus 1: 14-15, en hy het ’n aangrypende oproep gestel aan almal teenwoordig: Die Kerk moet erns maak met die koninkryk van God. Hy het verduidelik dat die konteks van dié Skrifgedeelte onstuimig was, maar dat die verkondiging van die evangelie steeds bo die kettings van omstandighede en tyd losgebreek het. ’n Subtiele vergelyking is gemaak met ons hedendaagse konteks wat ook onstuimig is, ’n konteks waar die evangelie ook koersaanduidend en vry van sodanige kettings behoort te funksioneer. 

Prof Dreyer het beklemtoon dat predikante en afgevaardigdes by die 74ste AKV te doen het met die koninkryk van God, en dit stel besondere eise asook verantwoordelikhede. Maar dan moet die Kerk opweeg hoe sy dringend gaan ingryp om voortdurend ’n impak te maak in ’n wêreld wat konstant aan die verander is, terwyl sy steeds die stem laat opklink van die kerk van alle eeue. Kommunikasie is ’n fyn kuns en ons as die Kerk moet daarom ook luister na hoe ons kommunikeer. Maar watter taal moet die Kerk dan praat? ’n Taal wat getrou bly aan dieselfde waarhede van die evangelie. In die woorde van prof Dreyer: En nou, 2 000 jaar later, sit ons hier in ’n kerkgebou in Midstream, Pretoria, in ’n Kerkvergadering, en ons praat nog steeds oor Jesus, die Christus.

Die 74ste AKV het vanjaar ’n ruimte geskep waar die Kerk kan besin, of dalk herbesin, oor die pad vorentoe. Verstaan lidmate die taal wat vanaf die kansel gepraat word? Moet predikante dalk die inhoud anders verkondig? Hierdie is van die vrae wat as vertrekpunte gedien het vir die belangrike besluite wat nog op die Kerk wag. Van dié besluite omvat onder andere ’n eietydse geloofsverklaring wat aanvaar is as ’n aangepaste formulering van die Barmen-verklaring en wat getuig van die hoop wat in die Kerk leef teenoor die samelewing en owerheid van Suid-Afrika. Daar was ook besluite wat gefokus het op alternatiewe vorme van bediening. Dit is duidelik dat omstandighede en konteks van een gemeente tot die volgende verskil, en daarom mag hul bedienings ook verskil. Ds Hannes van der Merwe het verduidelik dat nuwe omstandighede nuwe strukture vereis.

Ander besluite het oor die toekoms van predikante se opleiding gegaan. Die voorstel wat deur die AKV goedgekeur is, vereis in kort nie meer ’n meestersgraad soos in die verlede nie. Bykomend sal daar ook ander maatreëls in plek gestel word om teologiestudente meer prakties voor te berei vir hul dienswerk. Die vergadering het ook gefokus op die beskerming van die Kerk se ouer predikante. Aftreeouderdom, voortdurende opleiding en bystand vir emeriti is bespreek. Prof Dreyer het verduidelik dat die opleiding van predikante hoog op prys gestel word en daarom word daar na predikante en hul welstand deur die Kerk, en veral deur die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB), omgesien.

Speel jy ’n rol in jou verlossing? Dit is een van die vrae wat gestel is toe die standpunt van die Kerk rakende uitverkiesing bespreek is. Die Kerk meen dat Jesus Christus plaasvervangend is en terselfdertyd sowel die verworpe mens as die uitverkose mens is. Deur Jesus Christus is ons as mense ook sowel verworpe as uitverkose. Die Kerk verwoord iets van haar verstaan van die uitverkiesing soos volg: Die bron van uitverkiesing is God self, en God se onverstaanbare genade en liefde vir sondige mense.

Daar was egter ook sake wat oorgedra is aan die nuwe Kommissie, byvoorbeeld die saak van kinders by die nagmaal en die nuwe voorgestelde model vir sinodale bydraes.

Die 74ste AKV se afsluiting is behartig deur die intredende voorsitter van die Kommissie, ds Leon Geel (sr), waar hy sy termyn ingewy het met die lees van Jeremia 18 wat oor die pottebakker handel en oor hoe elkeen van ons vormend moet dien en tot eer van God moet lewe.

(Lesers kan gerus die volledige notule aanlyn op die NHKA-webblad lees.)

(Ds Iwana Kruger is die NHKA-joernalis en leraar in Gemeente Pretoria-Oos)