Die ander dag sien ek in Beeld die beriggie oor ’n man in Pretoria wat, gewapen met ’n braaitang en vullissak, deur die strate van sy buurt loop en vullis optel. Hy word nie betaal om dit te doen nie en hy doen dit nie om erkenning te kry nie, hy doen dit om die plek waar hy woon mooi en vullisvry te hou.

Terwyl ek die artikel lees, spoel daar ’n klomp emosies deur my gemoed. Eers is ek, soos so baie van ons, kwaad oor die mense wat heeldag loop en rommel strooi. Besef hulle nie wat hulle doen nie… Toe kom die skaamte. Hoekom doen hierdie man dit en nie ek ook nie? Hoekom kla ek net oor wat verkeerd is en doen ek niks daaraan nie?

Ek wonder nogal in watter kategorie val die deursnee-leser van hierdie redaksionele brief. Is jy ’n klaende burger, of iemand wat iets doen om ’n verskil te maak?

My vrou, Elize, werk by die kinderhuis hier op ons dorp. Die ander dag kom sy huis toe met ’n foto op haar foon. Sy was besig om met een van die huismoeders te gesels terwyl ’n seuntjie by hulle gestaan het. Sy skoene se veters was los omdat hy nog nie weet hoe om skoenveters vas te maak nie. Hy het maar so met los veters geloop. Daar kom toe ’n klein dogtertjie verby. Hulle is nie maatjies nie en sy het geen rede gehad om te doen wat sy toe gedoen het nie. Sy het eenvoudig nadergekom, afgebuk en sy skoenveters vasgemaak. Hierdie klein dogtertjie, soos die man wat vullis optel, het baie vir ons as Kerk te leer.

Dr Martin Jansen van Rensburg vertel op die middelblad van die gemeenskap van Delmas wat op ’n dag opgehou het om te kla en begin het om hul dorp waarvoor hulle lief is, te laat herleef. Oud en jonk, almal saam, werk hulle om ’n verskil te maak.

In die artikel oor burgerlike verantwoordelikheid wat ek vir bladsy 3 geskryf het, gebruik ek ’n beeld wat ek by wyle prof Johan Heyns geleen het. Hy het gesê dat as dit by ons verantwoordelikheid as gelowiges ten opsigte van God se skepping en skepsels kom, is daar die vrae wat ons onsself moet afvra: Wat kan, mag en behoort ek te doen?

Daar is baie wat ons kan doen. Ons kan kla, ons kan verwyt, ons kan besluit om niks te doen nie. Trouens, ons mag al hierdie dinge doen, want ons is mense wat ’n vrye keuse het om te doen wat ons wil. Die vraag is egter wat ons as Kerk behoort te doen…

Ek is van mening dat daar vir die Kerk nie meer wegkruipplek is nie as dit kom by ons verantwoordelikheid om betrokke te raak by die wêreld rondom ons. Ek besef dat ons tradisioneel met die groot vrees vir die sogenaamde social gospel weggeskram het daarvan om te veel by die samelewing en skepping om ons betrokke te raak, maar die Kerk gaan in hierdie dae eenvoudig moet optree. Ons verskonings om nie ’n verskil te maak nie, raak uitgeput.

Dr Tanya van Wyk wys byvoorbeeld in haar voorbladartikel op wat die sesde verslag van die Tussenregeringspaneel oor Klimaatsverandering (IPCC – Intergovernmental Panel on Climate Change) sê: dat die skade as gevolg van aardverwarming eintlik onomkeerbaar is en dat die uitdaging gaan wees om aardverwarming tot 1,5 °C of 2 °C te beperk. Onlangs het ek ook in ’n artikel gelees dat ons by die punt verby is waar ons dinge ten opsigte van die aarde kan regstel, ons kan maar net probeer dat dit nie erger raak nie.

Dit is die werklikheid waarmee ons as Kerk gekonfronteer word. Ons leef in ’n wêreld wat reeds spreekwoordelik sosio-ekonomies en ekologies in die ongevallesaal van die hospitaal lê.

Daar is so baie sosiale ongelykheid in ons samelewing wat meer en meer ook ons eie mense begin raak. Dan is die verval van regeringsdepartemente en -instellings ook ’n realiteit waarvan ons nie kan wegkom nie. Op die platteland beleef ons hierdie verval die duidelikste in die primêre gesondheidsorg, waar staatshospitale en klinieke baie maal in ’n toestand van chaos verkeer. Ook die infrastruktuur soos paaie, water- en elektrisiteitsvoorsiening is baie maal in ’n swak toestand.

Indien ons as Kerk relevant wil bly in hierdie nuwe werklikheid, gaan ons totaal anders oor baie dinge moet dink en dinge anders moet doen. Elke lidmaat en gemeente gaan na maniere moet begin kyk om ’n positiewe bydrae te lewer ten opsigte van die skepping en die samelewing waar jy woon.

Tel die vullis op, buk af en maak skoenveters vas, herwin en leef meer vriendelik teenoor God se skepping. Feit van die saak is dat ons net eenvoudig iets moet doen. Ons gaan, soos dr Van Wyk ons wys, die hoop moet wéés.