Ons jongste was vyf jaar oud. Ek mis vir Ouma! treur sy op ’n dag weer, min of meer ’n jaar nadat my ma oorlede is. Lomperig probeer ek troos met die versekering dat Ouma baie gelukkig is waar sy nou is. Snikkend antwoord sy: Ek wil nie hê sy moet gelukkig wees nie, ek wil hê sy moet hiér wees!
Ek gee nie voor dat wat ek verstaan het en wat sy bedoel het presies ooreenstem nie, maar dit het my nietemin genoeg stof tot nadenke gegee – en laat wonder hoe gelukkig ons werklik is. Want die media, ook Die Hervormer, rapporteer dat die uitdagings meedoënloos toeneem – en ons beleef eerstehands hoe mense bitter swaar kry as gevolg daarvan. Dít wat die huidige ekonomiese krisis besig is om aan ons te doen, waaraan ds Daan Steinmann ons in die voorbladartikel herinner, en dít wat mense aan mekaar doen, ’n saak wat dr Annelie Botha in haar bydrae in hierdie uitgawe bespreek, is goeie voorbeelde daarvan.
Ons kollektiewe gemoedstoestand word voortdurend uitgedaag deur ekonomiese faktore soos die voortslepende energiekrisis, vertraagde ekonomiese groei, krediet-graderingsagentskappe wat dreig om die land se status nog verder af te gradeer (daar is blykbaar baie grade van rommel!) en, les bes, Suid-Afrika se nuutverworwe gryslyslidmaatskap. Verder toets oormatige stres, diepe verwonding en erge psigiese trauma ons veerkragtigheid en geestesgesondheid tot die uiterste toe.
Dat hierdie gewigtige artikels albei op ’n positiewe en bemoedigende noot eindig, is ’n pluimpie vir die skrywers – want redes om gelukkig te wees, blyk deesdae maar yl gesaai te wees. Teologiese fynproewers sal waarskynlik daarop wys dat gelowiges se eerste prioriteit en lewensmissie nie aardse geluk behoort te wees nie, veral nie jou eie nie. Maar dít is ’n heel ander gesprek.
Die Wêreldgelukkigheidsindeks word sedert 2012 jaarliks vrygestel. Dat die mees onlangse resultate daarop dui dat Suid-Afrikaners se gelukkigheidsvlakke in 2022 die laagste was sedert die indeks ingestel is, is geen verrassing nie. En niks het tot dusver in 2023 gebeur om die afwaartse tendens te stuit nie.
Suid-Afrika lê tans 91ste van die 146 lande wat ingesluit is in die indeks – knus tussen Albanië en Azerbeidjan. Die navorsers benadruk dat die wete dat jy op ander kan staatmaak, ’n belangrike oorweging is wanneer ’n mens nadink oor jou eie geluk, tevredenheid en welsyn. Ook in daardie opsig vind Suid-Afrikaners min troos.
Ironies genoeg was daar nog nooit in die geskiedenis so ’n groot aanbod van terapeutiese en beradingstegnieke soos deesdae nie – sommige besonder waardevol en effektief (in die regte hande, bygesê), ander ongelukkig minder so. Maar terwyl hierdie alfabetsop van moontlikhede groei, styg stres- en angsvlakke tot hoër as ooit voorheen en daal gelukkigheidsvlakke tot laer as ooit voorheen.
Ons raak soms so verstrengel in jargon en gefikseer op uitkomste dat ons die essensie van ons gedeelde gebroke menswees uit die oog verloor. Ewe-eens is ons so vasgevang in ons eie vooroordele en een-grootte-pas-almal-kitsoplossings dat basiese meelewing en empatie noodwendig in die slag bly.
En dan word die Bybel op die koop toe veels te gereeld as ’n wapen ingespan om ander mee te kasty. Soos wafferse Jobstroosters het ons uit die staanspoor simplistiese klaargemaakte antwoorde op komplekse lewensvrae – en is dan verbaas om te sien dat ons eintlik net meer skade aanrig.
Wat elkeen van ons nodig het, is iemand wat omgee – regtig omgee. Ons loop dalk nie almal oor van lewensgeluk en -vreugde nie, maar ons is darem nog hiér – en ons is hiér vir mekaar. Hierdie ondermaanse stryd raak slegs ondraaglik as jy dit alleen moet voer. Almal kort iemand wat bereid is om hul oordele en vooroordele opsy te skuif en mee te leef en mee te voel en lief te hê sonder voorwaardes en grense. En, veel belangriker, ons behoort self so iemand te wees.
Want wanneer ons só omgee, volg ons in die voetspore van Jesus Christus wat almal wat uitgeput en oorlaai is, uitnooi om by Hom rus te vind. Ons volg in die voetspore van Hom wat medelye met ons swakhede het; wat in die stof gaan sit het by uitgeworpenes en ander randfigure en hulle liefgehad het en gehelp het; wat gewaarsku het dat enige oordeel wat jy vel terwyl jy self nie ’n skoon gewete het nie, gevaarlik is en tot niks goed kan lei nie; wat ons leer dat meegevoel tot aksie moet oorgaan wanneer jy ’n gewonde langs die pad teëkom. Fyn ingestel op ander se behoeftes het Hy omgegee sonder oordeel of vooroordeel. En dít het elke keer die verskil gemaak.
Alle slegte tye gaan die een of ander tyd verby. Maar wanneer ek opreg omgee, of ervaar dat iemand vir mý omgee, is daar altyd die vooruitsig dat dit veel vinniger sal verbygaan – vir die ander, en ook vir my. Die treffende beskrywing van hierdie eb en vloed van menswees deur die digter van Psalm 30, herinner ons dat die wiel immer besig is om te draai: Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.