Moenie te gou praat nie, moenie oorhaastig ’n belofte aan God maak nie, want Hy is in die hemel en jy op die aarde. Laat jou woorde daarom min wees. (Prediker 5: 1)

Lees Prediker 4: 17 – 5: 6

Ek lees nou die dag dat ’n geleerde sê: Ons leef in die tyd van inligting. Hierdie is ’n inligtinggedrewe eeu en samelewing, skryf die geleerde. Almal het toegang tot inligting. Jou grootste en domste vrae se antwoorde is so ver soos jou vingerpunte en jou selfoon.

’n Mens sou nou vermoed dat in so ’n tyd waarin inligting links en regs beskikbaar is, die mens baie meer wysheid sal hê. Maar dít het ek geleer: Oorvloed en toeganklilke inligting is geen waarborg vir kennis nie, wat nog te sê vir wysheid.

Die boek Prediker hoort tot die groep literatuur in die Bybel bekend as Wysheidsliteratuur. Die doel van die boek Prediker is dat dit kennis wil deel en mense wil leer hoe om wysheid te bekom. Dit is nie ’n slegte plan nie om die boek Prediker te lees as ons vandag sukkel om wysheid van dwaasheid te onderskei.

Die boek Spreuke (vergelyk 1: 7) herinner ons dat wysheid begin met die dien van die Here. Dit klink so eenvoudig: Die eerste tree na wysheid begin as jy die Here in jou lewe toelaat. En juis daar dink ek begin ons dilemma: die valse oortuiging dat ek wys kan wees. As ek net die Here in my lewe het, dan het ek wysheid.

Die Duitse teoloog Friedrich Schleiermacher (1768-1834) het in die tyd waarin hy in Europa geleef het, gesien hoe die mense van sy tyd juis onder hierdie waan begin leef het dat hulle wysheid het. Maar dit was nie wysheid wat van God af kom nie; dalk het sommige aanvanklik nog so bely, maar later het mense volledig op hul eie insigte en kragte begin staatmaak, tot so ’n mate dat God nie meer nodig was nie. Die leemte wat God in hul lewe gelaat het, het mense vinnig met hul eie idees en gedagtes gevul, wat hulle hoop en troos in die lewe kon gee. En spoedig was God oorbodig. Die wyse mens het God nie meer nodig nie, het hulle begin dink.

Dit is onder sulke omstandighede dat Schleiermacher met die wyses van sy tyd in gesprek wou tree en hulle herinner dat ons as mense eintlik niks anders is nie as skepsels van God op aarde. Ons lewe is voortdurend ’n bestaan in der Anschauen des Universums (voor die aangesig van God), het Schleiermacher gepleit. Ons mag nooit ons afhanklikheid van God vergeet nie. Ons mag nooit dink dat ons nou sonder God kan lewe aangesien Hy nou alle nodige kennis vir my gegee het nie. Wysheid kan eers posvat sodra ons besef dat ons afhanklik van ons Skepper is.

Die Prediker wil ons juis daaraan herinner dat wysheid eers kom wanneer ons besef dat God in die hemel is en ons maar net op die aarde (5: 1). God is die Skepper en ons sy maaksels. Sonder God is ons niks, het ons niks, ken ons niks. En selfs as ons dan God in ons lewens toelaat en dink dat ons dan kennis het, pasop! Kennis maak nie van ons spesiale wesens nie. Ons bly mense wat op aarde leef, en God bly die Skepper wat in die hemel regeer. Al is ons hoe wys volgens menslike standaarde, erken God as jou Skepper. Hierdie nederigheid sal jou beloftes aan God en jou gedagtes oor ander mense temper (Pred 5: 3-4).

Mag u soeke na wysheid u by hierdie ontdekking bring, dat ons nie sonder God kan bestaan nie, selfs nie eens as ons dink dat ons God verstaan nie.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap