Die opskrif van hierdie rubriek, “Ons praat teologie”, kan by sommige lesers die indruk wek dat hierdie ruimte slegs vir die sogenaamde “professionele” teoloog gereserveer is om oor verwante vakwetenskaplike kwessies te debatteer.

Ten einde sodanige indruk (verwarring) uit die weg te ruim, wend ek my tot ’n artikel in die HTS Teologiese Studies getiteld: “Martin Luther en teologiebeoefening in die toekoms” waarin prof Natie van Wyk die volgende stelling maak: “Indien Luther ’n sistematiese handboek geskryf het, sou hy nie met die vraag ‘Wat is teologie?’ begin het nie. Hy sou eerder gevra het ‘Wie is ’n teoloog?’ Volgens Luther is alle gelowiges teoloë.” In sy boek Everyone’s a Theologian: An Introduction to Systematic Theology, bevestig RC Sproul die stelling van Luther as hy sê: “Everyone is a theologian because any time we think about a teaching of the Bible and strive to understand it, we are engaging in theology.” Voorwaar betekenisvolle uitsprake!

Dit bring ons by die vraag: Hoe word alledaagse Christene teoloë? Ook hierdie vraag word deur Luther beantwoord: Van Wyk is weer aan die woord: “In ’n preek na aanleiding van Psalm 5:17 Omnes dicimur Theologi, ut omnes Christiani (Ons is almal teoloë, soos ons almal ook Christene is (let op die bewoording))…, beantwoord Luther die vraag hoe gewone allerdaagse Christene teoloë word deur te sê dat die Christelike geloof mense uitnooi om te dink. Gelowiges dink oor die vraag, wie is ek, of ons?, in die lig van die feit dat God met ons bemoeienis maak in die wet en die evangelie. Nadenke oor die wonder dat God met my praat, lei daartoe dat ek in gebed, in lof en ’n klaaglied, in dank, aanbidding en voorbidding reageer – en minstens dít is die hoekstene van teologie, naamlik ’n gelowige nadenke oor God in Christus.”

Benewens die feit dat u en ek Christene is, mense wat in die Drie-enige God glo, is ons ook denkers wat in staat is om nie net die Woord van God te lees nie, maar ook en veral op grond van die uitsonderlike plek wat God vir ons in die skepping ingeruim het, krities met die inhoud daarvan om te gaan. Ons is nie net lesers en/of luisteraars van die Bybel nie, maar ook denkers en nadenkers daarvan.

Dit kan ook nie anders wees nie, want Christelike teologie is doodeenvoudig ’n poging om God te verstaan soos Hy in die Bybel geopenbaar word of, soos iemand gesê het, dat die bestudering van teologie niks meer (of minder) is nie as om in God se Woord te soek en te ontdek wat Hy oor Homself wil openbaar. Wanneer ons dit sê, moet ons natuurlik ook verstaan dat geen teologie ooit volledig sal kan verduidelik hoe God en sy weë werk nie, want God is onsterflik en ewig, verhewe bo ons. Nogtans kan ons deur ’n bestudering van die teologie ’n poging aanwend om God te ken. Trouens, alle Christene word opgeroep om by die teologie betrokke te raak.

Ons betrokkenheid by die teologie behoort (moet) ook by ons ’n bepaalde bewustheid mee te bring en wel dat ons reisigers in en deur die geskiedenis is. Geleerdes praat in hierdie verband van die “historiese gesitueerdheid” van die mens – die veranderde en veranderende werklikheid of leefwêreld waarin hy bestaan. Die mens is dus gedurig besig om sy hede te transendeer die toekoms in, om sy toekoms te ontwerp, om sy lewe en wêreld te herontwerp en te herbeplan in die lig van wat hy meen hierdie lewe en wêreld behoort te wees. Hierdie transendensie van die hede die toekoms in impliseer ook die verlede, omdat die hede nie los van die verlede is nie en die hede is wat uit die verlede kom.

Die mens is daarom ook gedurig met die verlede besig, omdat daaruit sy eksistensiële plekbepaling moontlik is. Dit is ook uit sy verlede dat hy sy toekoms ontwerp, sodat hy vanuit hierdie ontwerp sy leefwêreld van die hede met die oog op die toekoms en gehoorsaam aan bepaalde waardes en norme, afbreek en herbou, bewaar en verder bou. Met ander woorde, die mens is altyd geworpe in ’n bepaalde tydstip van die geskiedenis, wat meebring dat iets soos ’n bowe-tydelike of buite-tydelike menslike bestaan (en teologisering) eenvoudig nie moontlik is nie. Elke historiese gebeure moet binne die samehang van tyd en plek gesien word en is alleen verstaanbaar binne daardie samehang.

Uit bogenoemde kan dus afgelei word dat teologie die vingermerke dra van die tyd waarin dit geskep is. Dit weerspieël die denke van die tyd waarin dit ontstaan het. Dit is ook die rede waarom Luther teologie verwoord as ’n oneindige wetenskap, aangesien dit nie volledig-afgehandel geleer en bestudeer kan word nie (Ideo Theologicae stinfinita sapientia, quia nunquam potest edisci). Om hierdie rede noem Luther teologie ’n “historiese- en ervaringswetenskap”. (“Martin Luther en teologiebeoefening in die toekoms”. Maart 2015. HTS Teologiese Studies 71(3))

Terwyl ons met ons teologiese aktiwiteit(e) besig is, behoort ons te besef dat ons tans in ’n snel veranderde en steeds veranderende wêreld leef – die sogenaamde postmoderne era waar rasionele sisteme en alle verklarings van die werklikheid subjektiewe konstruksies is wat wel nuttig mag wees, maar hulle bevat nie objektiewe waarheid nie. Alles is voorlopig en veranderlik. Algemeen geldende norme of maatstawwe is verdag. Dinge en gebeure het nie meer intrinsieke betekenis nie. Daar is slegs ’n voortdurende interpretasie en verklaring van die werklikheid. Deurdat teologie en teologiese kennis mensewerk is, is dit altyd voorlopig. Die bestaan van ’n stel absolute, altydgeldende, onveranderlike objektiewe waarhede en sekerhede wat oor tydgrense heen en in verskeie situasies dieselfde bly, word van die tafel afgevee. Dit is dus verstaanbaar dat sodanige beskouing implikasies het vir die beoefening van teologie as wetenskap, die verstaan van die belydenisskrifte, asook hoe die Bybel as basisdokument van die Christelike geloof gehanteer behoort te word.

Gedagtig aan die nuwe werklikheid en die sogenaamde “nuwe normaal” waarin ons leef, behoort ons as Christene te poog om by teologie betrokke te wees en te bly, want die bestudering van teologie is niks meer (of minder) nie as om in God se Woord te soek en te ontdek wat Hy oor Homself wil openbaar. Dit is die intense, persoonlike studie oor God met die doel om die Een saam met wie ons die ewigheid gelukkig en vreugdevol wil deurbring, beter te ken, lief te hê en te gehoorsaam. As ons dit doen, leer ons Hom ken as die Skepper van alles, Onderhouer van alles en Regter oor alles. Hy is die Alfa en Omega, die begin en einde van alle dinge.

Teologie is immers “’n vorm van liefde vir God met die verstand en daarom ’n aspek van die heiliging van ons lewe. Dit is ook ’n vorm van gehoorsaamheid, waarin ons denke dag na dag aan eie inhoud en vorm gekruisig word, en opstaan tot ’n steeds groter wordende daad van gehoorsaamheid en ’n steeds groter wordende vlam van innerlike verligting en uitstralende beligting. Teologie is ’n koninklike paleis – met talle diensknegte wat jare reeds vreugdevolle diens daarin verrig, en met baie ander diensknegte wat voortdurend in verwondering en verwagting toetree”. (JA Heyns en WD Jonker, 1973, Op weg met die teologie. NG Kerkboekhandel, Pretoria)

(Prof John Gericke, emeritus, is leraar in Gemeente Setlaars)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap