In Deel 1 van hierdie artikel is die personifikasie van wysheid in Spreuke (Hebreeus en Grieks) en Qumran-geskrifte bekyk. In hierdie deel word gekyk na tekste uit Ben Sira, Henog en die Wysheid van Salomo.
In Ben Sira is “Lady Wisdom” ’n dubbelsinnige figuur. Sy word uitgebeeld as iemand met onafhanklikheid en gesag, maar deels ondergeskik aan God omdat sy deur God geskep is – nie gelyk aan Hom nie. Sy is sy verteenwoordiger op aarde, soos ’n priesterlike mediator. Haar liefde lê daarin om die instruksies te gehoorsaam, en sy tree slegs op in Israel in die Jerusalem-tempel, wat, volgens Ben Sira se siening, geen beperking is nie: Vir hom is Jerusalem die middelpunt van die wêreld. Ben Sira poog om te put uit Hellenistiese idees, maar hy is teen ’n universalistiese perspektief; volgens sy siening is die Dame onbetwisbaar ’n Israeliet, maar met Hellenistiese gedagtes. Ben Sira se ideologie blyk duidelik uit sy uitbeelding van wysheid. Korrekte gedrag en wysheid is vir hom nie net aan die Torah gekoppel nie, maar ook aan die Jerusalem-tempel.
In die kort perikoop van 1 Henog 42 vind personifikasie van wysheid plaas. Dit beskryf hoe Wysheid na ’n woonplek gesoek het, maar nie een kon vind nie, toe is daar ’n woonplek in die hemel aan haar toegeken. Daar word beskryf hoe sy uitgegaan het om tussen die kinders van mense te gaan woon, maar nie ’n plek kon kry nie. Daarom het sy teruggegaan na haar plek toe, tussen die engele. Dit is ’n interessante weergawe van dieselfde idee wat anders vertel word in Spreuke (8: 27), Job (9: 8; 38: 16) en Ben Sira (Sir 24). In Sir 24 het sy, op die Here se bevel, ’n florerende woonplek in Jerusalem gevind, en voor Hom gedien. “Lady Wisdom” word in Henog as ’n hemelse wese uitgebeeld, terwyl sy in Ben Sira amper as ’n priesteres herken kan word. Alhoewel dit ’n baie kort perikoop is, beeld dit die Henog-konsepte duidelik uit, en die spontane intertekstuele herinnering aan hoe die ander tekste haar woonplek uitgebeeld het, gee genoeg inligting vir die leser uit die Tweedetempelperiode om die kontras raak te sien. Die apokaliptiese perspektiewe in Henog verklaar hoekom Wysheid geen woonplek op aarde of tussen mense kon vind nie, maar slegs in die hemel.
In die Wysheid van Salomo word Wysheid uitgebeeld as iemand wat afwisselend deur God en deur die regverdiges liefgehad word. Sy is sigbaar vir dié wat haar liefhet en soek. Sy is die leermeester en werker van alle dinge. Sy is die asem van die krag van God; die spieël van sy krag; en die beeld van sy goedheid. Sy word uitgebeeld as ’n metgesel en agent van God, die middelaar tussen God en mense. Sy is ’n huweliksmaat en ’n minnares vir die regverdiges, maar ook vir God. Sy is die slimste ontwerper, ’n hemelse wese wat langs God se troon sit. Sy red mense deur haar leiding en bewaar hulle, sy tree op as ’n goddelike wese. Sy is ewig en vervaag nooit. Sy is iets waarvoor ’n mens kan bid, en dit sal aan ’n mens gegee word soos ’n geskenk. Sy word gesien as ’n gees wie se waarde nie met edelgesteentes, goud of silwer vergelyk kan word nie. Sy kan liefgehê word; haar lig gaan nie uit nie; sy is die moeder van goedheid en rykdom. Sy kan na verlang, gesoek, gevind en liefgehê word. Al hierdie dinge gebeur in ’n opvolgreaksie. Die ware begin van haar is die begeerte na onderrig, en die besorgdheid oor onderrig is liefde; liefde is die onderhouding van haar wette, en die onderhouding van die wette is die versekering van onverganklikheid, en onverganklikheid bring ’n mens nader aan God. Sy is ’n hemelse wese wat langs God se troon sit. Alhoewel Spreuke 8 ook na haar verwys as ’n goddelike wese, is sy in die Wysheid van Salomo meer esoteries en word sy uitgebeeld as ’n metgesel en ’n godin. Dit is duidelik dat die Wysheid van Salomo só beïnvloed is deur die Griekse filosofie, dat wysheid besig was om te muteer tot filosofie. In die Wysheid van Salomo is die aspek van die versmelting van Israelitiese en Hellenistiese tradisies selfs sterker aanwesig as in Ben Sira, met sy sterk klem op geregtigheid. Wysheid is die een wat die heersers regeer en lei.
Veranderde denke
Dit is interessant hoe die beeld en die inhoud van verpersoonlikte wysheid verander het as gevolg van ideologie en veranderde denke. Die ontwikkeling in filosofieë van die tyd en invloede vanuit die konteks het gedefinieer wat hierdie metafoor verteenwoordig het. Die eerste toneel waar “Lady Wisdom” verskyn (Spr 1: 20-33), het uit die profetiese literatuur ontwikkel en het baie werklike beelde van ’n vrou. Beïnvloed deur Torah-vroomheid ná die ballingskap, het die LXX, Ben Sira en die Wysheid van Salomo verwysings na die wet tot hul wysheidsperspektiewe toegevoeg. Bydraes uit die Griekse filosofie het op so ’n wyse bygevoeg tot hierdie perspektiewe dat wysheid in die Septuagint aan filosofie gekoppel is. In die Wysheid van Salomo het wysheid selfs meer filosofies geword, met amper niks oor van die beelde van ’n vrou nie. Sy is uitgebeeld as ’n gees of lig, wat geïdentifiseer kan word as ’n hemelse wese of ’n vroulike godheid. Tekste uit apokaliptiese agtergronde, soos Qumran en Henog, het simboliese taal bygevoeg tot hiedie metafoor, wat hierdie genre en tekste verteenwoordig – sy het meer esoteries geword met vlerke, of is uitgebeeld as een van die hemelse wesens.
Die konsep van waar wysheid of dwaasheid woon, hou verband met elke teks se teologie en ideologie. In Ben Sira tree sy soos ’n priester op en floreer sy in Jerusalem by die tempel, terwyl sy volgens Henog net tussen die hemelwesens ’n blyplek kon vind. Dit is duidelik dat Ben Sira die Jerusalem-tempel vooropstel, terwyl Henog, getrou aan die aard van die genre van apokaliptiese literatuur, meer op die esoteriese fokus. Die meer esoteriese uitbeelding van haar woonplek is ook merkbaar in die Wysheid van Salomo – sy sit op die Here se glorieryke troon.
Dit is duidelik dat elke gemeenskap haar karakter (hetsy die personifikasie van wysheid of dwaasheid) in die taal en filosofie van die tyd beskryf het. Nie net die uitbeelding van die vrou (gepersonifiseerde wysheid of dwaasheid) het verander nie, maar die inhoud van wat wysheid en dwaasheid behels, is ook gevul met nuwe perspektiewe. ’n Mens kan vra wat word beskou as wysheid en wat as dwaasheid. Die term wysheid (of dwaasheid) is gebruik vir ’n abstrakte konsep en is ook abstrak toegepas, maar elke gemeenskap het dit gevul met en gekoppel aan hul bekommernisse van die dag of oomblik. Die abstrakte idee van iets soos wysheid of dwaasheid maak dit vir elke gemeenskap moontlik om dit met hul eie inhoud te vul. Elke gemeenskap het hierdie abstrakte term gebruik om te beklemtoon waarteen hulle gepropageer of gepolemiseer het.
Elke teks het hierdie metafoor vir ’n eie konteks gebruik. Wanneer die gemeenskap ’n krisis in die gesig gestaar het (of dit nou die interpretasie van die wet, leerstellige kwessies, Hellenisme of opponerende leerstellings was), is “Madame Folly” gebruik om daardie bedreiging te personifiseer. Daarteenoor was die gemeenskap se ideologie, wysheid of interpretasie van die wet gekoppel aan Wysheid wat as ’n goeie vrou verpersoonlik is. In al hierdie tekste is die vrou nie net die personifikasie van wysheid of dwaasheid nie, maar ook wysheid en dwaasheid met ’n unieke inhoud. Elke konteks herdefinieer die persepsie van wat die gemeenskap as wysheid beskou en wat hulle as dwaasheid beskou. Die vrou is in kontekstuele en kultureelspesifieke eienskappe uitgebeeld en het ’n sekere kontekstuele standpunt verteenwoordig, gevul met kontekstuele waardes, oortuigings en ideologieë.
(Prof Ananda Geyser-Fouché is medeprofessor in die Departement Ou Testament en Hebreeuse Geskrifte)
