Prediking 
Wat ’n vreemde teks om te lees by die begrafnis van iemand. Ons lees dit gewoonlik wanneer twee mense trou. Meer nog: huwelik sê iets van ‘n nuwe lewe. En vandag is ons saam omdat daar ‘n einde aan ‘n lewe gekom het.

Wanneer ons egter hierdie gedeelte anders lees, het hierdie gedeelte vir ons iets wonderliks te sê op ‘n dag soos vandag. En kom ek verduidelik.

In hierdie gedeelte word daar van die liefde gepraat. En wanneer ons die woordjie liefde hoor, dink ons dadelik aan dit wat ons voel. Dit wat ‘n man vir sy vrou voel. Of ‘n ma vir haar kind. Of die liefde wat julle vir haar gehad het van wie ons vandag afskeid neem.

Daar is egter ook ‘n ander manier om die woordjie liefde in hierdie gedeelte te verstaan. En dit is dat met die woordjie liefde hier elke keer na die een groot Liefde, Jesus Christus,verwys word. En dat Paulus hier vir ons sê dat sonder Jesus Christus, ons eintlik niks is nie.

Jy kan in tale spreek, sê Paulus, maar sonder Christus is jy niks. 
Jy kan profeteer, maar sonder Jesus beteken dit niks. 
Jy kan alles uitdeel wat jy het, maar sonder Christus is jy niks. 
Jy kan selfs jou liggaam vir ‘n ander gee, maar sonder Christus is dit niks. 
In kort: ons kan wie of wat wees, ons kan wat ook al doen, ons kan wat al in die lewe bereik het: sonder Christus is ons niks.

Hoekom? 
Want toe hierdie liefde, Jesus Christus, mens geword het en onder ons kom woon het, was hierdie liefde nie alleen geduldig en vriendelik met almal nie, maar het hierdie liefde nie sy eie belang gesoek nie. Maar die belang van ons. Van God se mense. Ook die belang van haar van wie ons vandag afskeid neem. Daarom het hierdie liefde, Jesus Christus, sy liggaam vir ons gegee. Ook vir haar van wie ons vandag afskeid neem. En nou is ons almal met God versoen. Nou hou God nie meer boek van ons kwaad nie. Nog meer: hierdie Liefde bedek al ons sondes, en verdra ons wanneer ons so dikwels anders leef as wat God van ons vra.

En wat nog meer is: hierdie Liefde, Jesus Christus, is ewig. Dit vergaan nooit nie. Alles wat ons doen en is, sal vergaan. Want ons lewe is eintlik baie kort en tydelik. Maar hierdie Liefde is ewig. Dit vergaan nie. Daarom leef ons ook ewig, omdat sy ewigheid ons tydelikheid oorwin.

Ja, sê Paulus hier, ons ken hierdie liefde, terwyl ons hier op aarde leef, maar net gedeeltelik. Maar eendag sal hierdie Liefde weer na ons toe kom, en dan sal ons nie meer net gedeeltelik ken nie. Dan sal ons volledig ken, omdat ons by God sal wees. Soos sy nou is.

Ons lewe hier is ‘n lewe waarvan ons nie alles verstaan nie. Dit is, sê Paulus, soos om in ‘n dowwe spieël te kyk. Jy sien iets, nie alles nie. Ons verstaan nie hoekom God ‘n geliefde van ons wegneem nie. Ons verstaan ook nie hoekom ons soms so swaar kry, en daar soms soveel hartseer in ons lewens is nie. Ons verstaan nie hoekom die lewe nie soms vir ons uitwerk soos ons dit graag wil hê nie.

Maar eendag, wanneer Christus kom, of wanneer ons wat glo sterf, sal ons by God wees. En dan sal ons alles verstaan. En dan sal ons God volledig ken soos Hy ons volledig ken.

Daarom: ons kan met oorgawe glo, ons kan weet dat ons lewens veilig by God is. Hierdie lewe en die lewe hierna. Ons kan dit glo, omdat Hy vir ons gesê het dat Hy wat die Liefde is, die weg en die waarheid en die lewe is.

Meer nog: ons kan hoop. Hoop op ‘n goeie en rustige lewe, hoop op die feit dat hierdie Liefde altyd by ons sal wees. Dat hierdie liefde ons sal troos waar ons vandag hier so hartseer is.

En bo alles: ons kan weet dat van alles wat op hierdie aarde is, wat deel van hierdie aarde is, alles wat deel van ons lewe is, die Liefde, Jesus Christus, die grootste is. Groter as die dood. Groter as ons hartseer. Groter as elke ongelukkigheid wat ons hier mag beleef. Groter as die graf. Groter as die tydelikheid van hierdie lewe.

Daarom, sê Paulus in 1 Korintiërs 14:1, moet ons hierdie Liefde nastreef. Ons moet soek na Christus in ons lewe. Om moet streef om elke dag in sy teenwoordigheid te lewe. Om moet poog om te lewe soos Hy vra. Met die wete: hierdie Liefde sal ons nooit verstoot nie. Hierdie Liefde sal ons nooit in die steek laat nie. Solank ons in opregtheid ons lewens leef, sal hierdie Liefde ons in genade bly verdra.

Mag hierdie Liefde, Jesus Christus, julle vandag troos. Sonder hierdie Liefde is ons lewens eintlik niks. Sonder hierdie Liefde beteken alles wat ons doen niks. Sonder hierdie Liefde is ons eintlik niks. Maar in hierdie Liefde word ons kinders van God genoem. Wie sterf sonder hierdie Liefde, se lewe kom tot niks, maar wie sterf in hierdie Liefde, se lewe word ‘n lewe by God. Ewig. Omdat God ewig is.

Laat ons aan hierdie Liefde, Jesus Christus, vashou. Dan sal ons nie alleen sy teenwoordigheid elke dag in hierdie lewe ervaar nie, maar sal ons, na hierdie lewe, ewig in sy teenwoordigheid wees. Wie dit glo, en daarop hoop, besit die allerbeste: ‘n ewige tuiste by God. 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap