Vreesbevange Vasie van Vaalboshoek vra: Beste Oupa Stoep, iets wat my nog nie oorgekom het nie, maar waarvoor ek ’n heilige vrees het, is om ’n doodstyding te moet gaan oordra. Het Oupa dalk vir my raad hoe om hierdie baie moeilike taak met sensitiwiteit te verrig?

Beste Vasie, wat jy hier noem is sekerlik een van die mees uitmergelende take wat op ’n predikant se pad kom. Oupa moes hierdie taak ’n paar keer in sy lewe verrig. Een van die kere was toe Oupa skaars ouer as ’n bogsnuiter sy diensplig as ’n kapelaan in die Suid-Afrikaanse Polisie gedoen het. Kapelane het pers epoulette gedra en ook ’n pers band om hul pette. Al wat ’n polisieman van daardie tyd was, het vir hul eggenotes geleer hoe dinge werk: Sou hy of sy aan diens of op die grens wees en iemand in uniform klop aan die deur, moes die eggenotes kyk na die kleur van die epoulette en die band om die pet. As dit donkerblou was, was dit ’n offisier en dan moes hulle weet dat hul wederhelftes op ’n manier beseer is. As die kleur pers was, moes hulle weet dis ’n kapelaan en dat hul wederhelftes oorlede is. Oupa het persoonlik beleef hoe ’n vrou voor sy oë verkrummel sonder dat Oupa ’n woord gesê het. Sy het geweet wat die pers beteken het.

Tydens Oupa se opleiding as dienspligkapelaan, is dit by die kapelane ingedril wat nodig is as ’n doodstyding oorgedra moet word. Hierdie geld nie net in ’n militêre opset nie, maar orals waar dié verpletterende nuus oorgedra moet word.

Die belangrikste wat Oupa geleer het, was dat jy soveel inligting moontlik moet kry voordat jy aan ’n deur gaan klop. Jy moet weet wat gebeur het, waar dit gebeur het, hoe dit gebeur het, wat die afloop van die gebeure was, waar die liggaam van die afgestorwene is, ensovoorts. Hoe meer inligting jy kan gee, hoe beter. Wat egter oor en oor by Oupa ingeprent is en wat hy self uit dure ervaring geleer het, was om nie iets te sê waarvan jy nie seker is nie en ook nie te bespiegel oor gebeure nie. As dit by feite kom, moet ’n mens eerder te min sê as te veel. Bo alles moet ’n mens eerlik wees. Oupa het geleer dat, in antwoord op al die Hoekoms?, ’n eerlike: Ek weet regtig nie, baiekeer meer help as ’n mooiklinkende, maar eintlik nikseggende, antwoord.

Oupa het ook besef dat daar nie een resep is wat werk vir elke situasie nie. Partykeer moet ’n mens oor en oor dieselfde vrae wat die mense vra, beantwoord. Dit is asof die werklikheid nie wil insink nie. Ander kere tref die volle impak van die tragiese gebeure omtrent dadelik die mense. Hulle sit net stom en staar voor hulle uit. Oupa het geleer om dan self maar net stil te bly en daar te wees vir die mense. En as hulle onbedaarlik begin huil, het Oupa meestal net saam gehuil…

’n Laaste ding wat Oupa geleer is, was om te probeer sorg dat iemand die mense aan wie die tragiese nuus oorgedra is, kom bystaan. Dit moet verkieslik iemand bekends, soos ’n familielid of ’n nabye vriend wees. Oupa het egter by die mense gebly totdat hulle aangedui het dat hy maar kan weggaan.

Maar nou, my liewe Vasie, terwyl hy glad nie ligsinnig wil wees oor ’n baie delikate onderwerp nie, wil Oupa tog ’n ware gebeurtenis met jou deel. ’n Boetie en sussie gaan besoek hul bejaarde moeder in die versorgingseenheid van ’n tehuis vir bejaardes. Moeder is nog redelik helder, maar die Lang Vergeet-siekte eis al sy tol.

In die loop van hulle kuier, vra Moeder: Hoe gaan dit nou met antie Lang-Miem? Haar seun antwoord dat antie Lang-Miem al twee jaar gelede oorlede is. Moeder is ontsteld en haar kinders troos haar. Dieselfde gebeur toe sy navraag doen oor die welstand van oom Poon en nig Atta. Haar seun lig haar in dat ook hulle al oorlede is en weer troos hulle vir Moeder. Moeder vra toe hoe dit met haar broer, Boet, gaan. Dit gaan baie goed met oom Boet, antwoord haar seun, hy het mos op Jongensfontein gaan aftree. Moeder is baie dankbaar om dié positiewe nuus te hoor.

Toe hulle uitstap, raas die sus met haar broer: Hoe kan jy so vir ma lieg? Jy weet baie goed oom Boet is ook al oorlede! Die broer antwoord heel bedaard: Sus, jy moet mos verstaan. Geen mens kan meer as drie doodstydings op een dag hanteer nie!