Vier dae na Uniewording in Suid-Afrika gebeur daar iets in ’n klein Dorslandtrekkerdorpie in die suidweste van Angola, of soos die ou mense gesê het, Portugees Wes-Afrika, wat rare voorwerpe – nou in die SP Engelbrecht-museum – saambind.
Volgens tradisie het die moeder van die huis spesiaal vir haar gesinslede wit katoen-grafklere gemaak. Oupa Gert (JG) Benade se doodskleed wat nooit gedra is nie, is 1,4 m lank met ’n kraag en mooi versier met vyf wit knopies, kant en rygwerkplooitjies. Onthou, liewe leser, ’n doodsjurk het nie sakke nie! Liefde is al wat in die doodskleed se sakke pas. Ouma Neeltjie ontval hom reeds in 1931, en dekades later met sy afsterwe op 92 in 1955, was hierdie bedoelde ene te diep gebêre. Inderhaas moes hy ’n nuwe kry … toe hy deur sy nefie, prof Theo Koekemoer, in die Rebeccastraat-begraafplaas, Pretoria, ter ruste gelê is.
In die nasleep van die mislukte kerkvereniging in die 1890’s het ouderling Hans Joubert van Zeerust Nederduitsch Hervormde gemeente die jonge diaken Gert na ds Van der Spuy van die NH of G (Verenigde Kerk) gestuur om die kerksleutel te gaan haal. Hy moes egter sonder enige resultaat terugkeer aangesien die predikant geweier het om die sleutel af te staan. Toe die Hervormers besit van hul kerkgebou gaan neem het, het ’n skermutseling ontstaan. ’n Baksteen het Gert teen die kop getref, net bokant sy regteroog. Met hierdie merkteken waaroor hy dikwels gespot het, is hy na sy graf. By sy doodsrok hang ’n A3-inktekening van hom op sy oudag.
Sy interessante loopbaan as kerkraadslid, eers as diaken en daarna as ouderling van Zeerust (destyds nog genoem Marico), het ’n hoogtepunt bereik toe hy as 46-jarige in die herfs van 1910 saam met ds Pieter van Drimmelen as afgevaardigde na Humpata in Angola vertrek het. Hulle wou daar in die verre vreemde ’n gemeente van die NHK gaan stig na ’n skeuring in die Gereformeerde Kerk Humpata in 1908 vanweë ’n groep lidmate wie se gevoelens oor die sendingsaak geheel afwijken van de inzichten de (Gereformeerde) Synode.
Na die erediens op 15 Mei 1910 is die twee broeders as’t ware uitgestuur na die lidmate in de verstrooiing vanaf die agtkantige boekenhoutkansel met kantpanele versier met Gotiese boë. Die preekstoel is in ongeveer 1860 vervaardig en was eers die ou Voortrekkerdorp Schoemansdal in die Verre Noord-Transvaal s’n. Dis in 1998 deur Andries du Plessis gerestoureer. Daar is net ’n hopie grond oor van die kerkie, wat later ’n melkstal was.
Ná ’n láng skof met alle vorme van vervoer buiten ’n vliegtuig, kom hulle op 23 Mei by die hawe Moçâmedes aan en 162 km verder deur haas onherbergsame gebiede – soms selfs gedra in een overdekte hangmat – op 28 Mei in Humpata, en gaan hulle na die plase van Andries (ANJD) Alberts en Willem (WA) Venter.
Die 2,15 m lange yster-wa-as van ’n Dorslandtrek-ossewa het behoort aan Andries Alberts en is in die 1940’s deur sy seun, ouderling-skriba Flip Alberts van Outjo-gemeente, Pretoria toe gebring met ’n Algemene Kerkvergadering. Hy het sommer ’n spoggerige ateljeefoto daarmee laat neem. Willem Venter, vegkommandant van die Humpata-kommando wat die Portugese weermag gehelp het, was ’n ontvanger van die Ordem Militar da Torre e Espada do Valor, Lealdade e Mérito, die hoogste Portugese eerbewys – ’n Militêre Orde van die Toring en die Swaard, vir Dapperheid, Getrouheid en Meriete. Dit lyk soos ’n fyn burgemeestersketting.
Na ’n paar dae se rus en ’n voorafvergadering op Dinsdag 31 Mei, geskied gemeentestigting Saterdag 4 Junie 1910 op Alberts se plaas São Januário – die Heilige (St) Januarius. ’n Mens vergeet Angola was ’n Portugese Katolieke kolonie, alhoewel die Boere toestemming gehad het om Hollands-Afrikaans en Protestants te bly. Dis ook daar waar die kerkgebou kompleet met klok in 1912 opgerig is. Ses kerkraadslede is gekies en bevestig, en Gert en ds Van Drimmelen verskyn op die eerste kerkraadsfoto. Sondag 5 Junie is Nagmaal gevier. Die Nagmaalservies wat tot in 1928 in Humpata gebruik is toe die Afrikaner-Boere uit Angola teruggetrek het na Suidwes-Afrika (Namibië), is twee glas-skinkkraffe (37 cm hoog) en twee glas-Nagmaaldrinkbekers (14 cm hoog). Dis gekoop in die suidwestelike Angolese hawestad Moçâmedes (vandag Namibe), toe bekend onder die Boere as Die Baai kort na die aankoms van die Dorslandtrekkers in ongeveer 1880. 6 Junie is huisbesoek begin met ’n oskar. Dienste is oral in afgeleë gebiede gehou, lidmate bevestig en kinders gedoop.
Met besoeke aan Angola se twee gemeentes Humpata en Mombolo (gestig 11 Januarie 1919 deur Van Drimmelen én 19 dae se ossewareis van Humpata af), moes Suid-Afrikaanse dominees gewoonlik sewe Sondae vertoef. Op 25 Februarie 1919 met sy derde besoek terwyl hy toe predikant op Pietersburg was, is Van Drimmelen, net 45 jaar oud, oorlede aan die Groot Griep in die huis van ouderling Andries Alberts. Hy is begrawe langs die Humpata-kerkgebou. Die graf is verskuif na die Boerebegraafplaas op Jamba. Sy eg Hollandse fluweeltoga (circa 1909) reik tot die enkels met knope, nog almal aanwesig, met geplooide moue by die skouers vir 13 cm en moulengte 60 cm.
Gedurende sy laaste lewensjare woon Oupa Gert by sy kinders in die weste van Pretoria, sy seun Soekie en Lottie Benade, en as die oudste manslidmaat van Gemeente Noordwestelike Pretoria lei hy met die Kanselbybel in sy hande die optog op 2 April 1948 vanaf die ou kerkgebou na die nuwe.
(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)