Hulle het skielik iets gehoor wat uit die hemel kom. Dit was soos ’n sterk wind wat waai. Hulle het dit gehoor oral waar hulle in die huis gesit het. (Handelinge 2: 2, Bybel vir almal)
Geliefdes van ons Here, Jesus Christus:
Die winde van verandering waai. Niks is meer seker nie, ons sekerheid waai weg soos stof in die wind. Bekende spreekwoorde wat miskien in hierdie dae uiters gepas gebruik kan word. Want dit is hoe baie van ons oor ons lewens voel. Deur die wind van pandemie en vrees losgeruk van die standvastigheid wat daar was. En daar is geen skuiling teen die wind nie. Dit voel asof ons ganse bestaan deur hierdie wind ontwortel is.
Handelinge vertel ons van ’n ander soort wind. ’n Sterk wind, maar een met ’n ander soort uitkoms. Ons lees van die verstommende oomblik toe God na die aarde toe kom om as Heilige Gees in die harte van sy kinders te kom woon. Toe Jesus na die hemel toe opgevaar het, was daar in die harte van sy dissipels die vrees dat Hy weg is, dat Hy hulle verlaat het. Op hierdie dag kom wys Hy vir elkeen wat in Hom glo dat Hy ten volle teenwoordig is in sy kerk. Die Heilige Gees woon in sy volgelinge en Hy bekragtig dat hulle sy eiendom is, en dat Hy oor hulle heers. Met die Pinkstergebeure wys God vir almal dat die tyd aangebreek het waar die Heilige Gees in sy kerk gaan optree en werk. Die mense wat in Hom glo, sal nie onaangeraak wees nie.
Die uitstorting van die Heilige Gees bring gelowiges in beweging. Tot op daardie dag was die volgelinge van Jesus bymekaar, en hulle was eensgesind in hul geloof in God. Maar toe die Heilige Gees oor hulle uitgestort word, kom hulle in beweging. Die Gees het hulle beweeg om uit te gaan en die volk van die Here met die verkondiging van die evangelie bymekaar te maak. Deur die prediking van hierdie gelowiges het die Heilige Gees ook so gewerk dat duisende ander mense in geloofsbeweging gekom het. Baie mense uit verskillende volke het die Woord omhels en saamgekom as sy kerk. Die winde van verandering het gewaai. So was die geluid van die geweldige rukwind ’n teken daarvan dat God, die Heilige Gees, sy kerk in beweging bring.
Geliefdes, dit was die begin van ’n proses wat vandag nog voortgaan. Die proses wat u en ek sien in die beleërde wêreld waarin ons leef. Juis hier in ons grootste krisisoomblik beleef én leef ons dit. Sien ons dit in ons eie gemeenskappe. Die Heilige Gees beweeg sy kerk om deur hand en mond sy Woord in die wêreld uit te dra. Die uitstorting van die Heilige Gees op daardie dag in Jerusalem leer ons dat ons nie moet wonder oor God se teenwoordigheid in hierdie wêreld nie. Nie moet spekuleer oor die vrees van onsekerheid wat ons elke dag beleef nie. Ons moet leer uit die ervaring van die mense oor wie die tonge van vuur gekom het. Ons moet juis opstaan en aan die beweeg kom. Die krag van die rukwind is God en ons moet Hom volg.
Pinkster herinner ons om onbeskaamd die evangelie van Christus as die volle waarheid te verkondig. Met ons monde en deur ons dade – onder alle omstandighede. Ook onder die kwarantyn van Covid-19. Ons sien vandag hoe gelowiges in die voorste loopgrawe van hul gemeenskappe gaan veg. Hande neem en saamstaan. Fokus op die ware taak. Gelowiges kom in beweging. Daar waar regering en politici faal, daar vind ons ons plek – ons taak!
Die Pinkstergebeure laat ons besef dat die Heilige Gees met groot krag werk daar waar God se kinders, sy kerk, leef en hul werk doen. Nee, die wind waai ons nie weg soos stof nie. Nee, ons is nie alleen nie. God is met ons. Deur sy Gees wat in ons woon, dryf Hy ons vorentoe. Kom in beweging en leef dit vandag. Amen.