Gedurende grendeltyd het dr Martin Jansen van Rensburg en diak Andries Pretorius van die Kommissie van die Algemene Diakensvergadering met ’n briljante idee vorendag gekom. Hulle wou graag die boodskap van hoop, eenheid en welwillendheid (al is ons vasgekluister in ons eie huise!) herbevestig. Die ontvanklikste vir hierdie kragtige boodskap is ’n kind.

Daar is besluit om al die kinders in ons Kerk te vra om op Jeugdag, 16 Junie, papierpoppies te maak en gedeeltes van die Bybel op elke poppie te skryf. Elke gemeente het gedeeltes uit Bybelboeke gekry om neer te skryf. So is daar weer ’n hele paar Bybelboeke gelees wat andersins agter in die ry staan. Baie gesinne oral in die land het in die veilige ruimte van hul eie huise gelees, geskryf en papierpoppies gemaak. Foto’s is gedeel. Sommige gemeentes het die papierpoppies in hul kerke en selfs rondom hul kerke uitgestal.

Gedagtig aan die viering van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se 200ste verjaardag die naweek van 22-23 Augustus, het ek die groot werk begin om al die papierpoppies bymekaar te maak om uit te stal. Die reaksie was oorweldigend. Van oral het daar papierpoppies gekom. Groot moeite is gedoen om te sorg dat die poppies in Pretoria arriveer. Die papierpoppies is Saterdag 22 Augustus oral by Bybelhuis in Kempton Park vertoon.

Die mure voor Bybelhuis was vol poppies, die heining was versier met poppies, niemand kon by die ingang ingaan sonder om in ’n papierpoppie vas te loop nie. Ek het skielik verstaan wat die Emmausgangers bedoel het toe hulle ná hul ontmoeting met Jesus vir mekaar gesê het: Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat het en vir ons die Skrif uitgelê het nie? (Luk 24: 32). My hart het warm geword toe ek sien hoe mense moeite doen om stil te staan, die poppies te bekyk en die Bybelversies te lees. Nog warmer as mense gevra het: En die poppies? Ek kon die mooi storie vertel van kinders van Kerk wat oral in die land moeite gedoen het om papierpoppies te skep wat die boodskap van Hoop verkondig.

Dalk het ons dit juis nodig om in hierdie deurmekaar tyd waarin ons ons bevind, weer vir mekaar Hoop-stories te vertel en Hoop-stories te doen. ’n Eenvoudige papierpoppie (nee, honderde daarvan!) het my weer laat besef dat Hoop soms op verrassende plekke en op die onmoontlikste maniere te vind is. Dankie aan elkeen wat deel gehad het aan die mooi papierpoppie-storie!

Dr Sanrie de Beer, Bybelgenootskap