God se krag

Die wonderlike krag wat deur my werk, is God se krag en nie myne nie. Ek is soos ’n eenvoudige erdepot waarin daar iets baie kosbaars gesit is. (2 Korintiërs 4: 7, Die Lewende Bybel)

Toe kom die woord van die Here tot my: Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel. (Jeremia 18: 5-6, AFR1983)

Leer my u wil, Heer, u doel met my –
U, Pottebakker, met my, die klei.
Vorm my en maak my volgens u wil;
op U vertrou ek, nederig stil.

Leer my u wil, Heer, u plan vir my;
laat ek nie doelloos, nutteloos bly.
Hou my erkentlik, Heer, in u werk:
As ek dan swak is, maak U my sterk.

U gee u gawes net soos U wil;
almal is diensbaar, elk met verskil.
Vul met u Gees my, breekbare kruik,
dat U my oral nuttig gebruik.

(Attie van der Colf,
Gesang 528: 1-3, Liedboek van die Kerk)