Prof WC (Wouter) van Wyk (emeritus) is Maandagoggend 15 Februarie 2021 oorlede, vier maande na sy vrou, Ierene (84). Hy sou op 23 Februarie 84 jaar oud gewees het.
Sy seun, dr Wouter van Wyk, sekretaris van die Kommissie van die AKV, sê hulle is hartseer, maar dankbaar dat hy rustig was en baie goed versorg is in Huis Herfsblaar. Al sy kinders en kleinkinders kon hom die laaste week sien en afskeid neem. Ons innige simpatie gaan aan dr Wouter en hul familie.
Nadat prof Van Wyk in Junie 1970 georden is, het hy in Gemeente Pretoria-Oos gedien, in 1971 hoogleraar geword aan die Universiteit van Pretoria, in 1983 dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, en in 2000 emeritaat aanvaar. In die woorde van sy seun, dr Wouter: Hy het professor en dekaan geword, maar nooit enige erg aan status of seremonie gehad nie en dit aan ons oorgedra. Hy het sy lewe lank sy horisonne verbreed – deur boeke, filatelie, musiek, kos, reise en kontak met uiteenlopende mense en gemeenskappe. So het hy ons gelaat met die vrug van ’n verruimde gees en ’n groter perspektief op die werklikheid. En ’n leeftyd se kosbare herinneringe…
Die troosdiens op Vrydag 19 Februarie in Gemeente Pierneef is gelei deur ds Petri de Kock. Weens die pandemie en die inperkings kon slegs familie by die diens geakkommodeer word.
