Ds JJ (Johan) Viljoen (emeritus) is Vrydagoggend 5 Februarie 2021 omstreeks 06:30 in die Kosmoshospitaal in Witbank oorlede. Hy sou op 15 Februarie 67 jaar oud gewees het.

Hy het die Donderdagmiddag ’n hartstilstand gehad, en weer twee keer Vrydagoggend. Sy hele gesin, sy broer ds Pieter Viljoen (Alberton) en ander gesinslede kon hom die Donderdagaand besoek.

Hoewel hy vir tien dae behandeling vir Covid-19 ondergaan het, het dit later geblyk dat sy geweldige koors deur iets anders veroorsaak is. Uiteindelik het sy niere ophou funksioneer – hy het die laaste aantal jare met kaliumvlakke gesukkel.

Nadat ds Viljoen in Januarie 1978 georden is, het hy in gemeentes Nigel, Vryburg, Stilfontein, Witbank (17 jaar lank), Koornfontein en Middelburg gedien. Hy het in 2019 emeritaat aanvaar, en steeds in die ring van Middelburg en omliggende gebiede gepreek.

Die gesin is gedurende ds Viljoen se siekbed bygestaan deur ds Nicolaas Steenekamp van Middelburg. Die roudiens op Saterdag 13 Februarie vanuit Gemeente Middelburg is gelei deur ds Steenekamp. Ons innige simpatie gaan aan sy vrou, Marietjie, en al hul familie.