Oudl Jan Mans van Gemeente Vereeniging is Saterdag 30 Januarie 2021 in die ouderdom van 85 jaar aan komplikasies van Covid-19 oorlede.
Jan Mans het vir byna 60 jaar onafgebroke in ’n kerkraad gedien – eers as diaken en daarna as ouderling. Ds Bouwer Serfontein sê oudl Mans was nie maar net nog ’n kerkraadslid nie, maar ’n diep gelowige wat sy gemeente en kerk baie lief gehad het. Hy was ook leier van die Outydse Klanke Boereorkes en ’n briljante konsertinaspeler. Wanneer die orkes elders as die Vaaldriehoek gespeel het en hulle in die vroeë oggendure tuisgekom het, was hy steeds om 08:30 in die konsistorie op sy pos, in sy kenmerkende swart pak en wit strikdas. Sy plek heel voor in die ouderlingbank gaan nou leeg wees.
Hy was ook ’n goeie administrateur wat uitmuntende diens in die gemeente gelewer het as kassier. Sowat 22 jaar gelede het hy begin met ’n worsprojek wat die gemeente se voortbestaan kon verseker. Van ’n beskeie begin met 350 kg wors die eerste maand het dit gegroei tot meer as ses ton (6 000 kg) wors aan die begin van Desember 2020. Vandag word die wors gemaak net op voorafbestelling!
Hierdie projek was tegelykertyd ook ’n barmhartigheidsprojek. Sedert die lidmate in die middedorp van Vereeniging afgeneem het, het Jan “worsmakers” veral uit Leeuhof, ’n staats-aftreedorp binne die gemeentegrense, gekry. Benewens ’n daaglikse vergoeding vir die paar dae dat hulle met die projek kom help het, het elkeen ook wors en maalvleis gekry om huis toe te neem. Oor jare is uit hierdie projek ruim vir plaaslike skole en kinderhuise bydraes gegee.
Ds Serfontein sê hulle eer Jan Mans se nalatenskap met die woorde van Daniël 12: 3: Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre. (Berig verkort)
