Ds Dirk van der Hoff was die eerste predikant van die Hervormde Kerk na die Groot Trek. Hy was van 1853 tot met sy dood in 1881 predikant in die Transvaalse Republiek en is een van die mees omstrede figure in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis. Party skel hom uit as liberalis of skeurmaker, ander beskou hom as ’n patriot, kerkman en staatsman. In ieder geval is hy ’n persoon van historiese belang vir die Hervormde Kerk.
Die Nederlander Dirk van der Hoff is op 2 September 1814 te Dordrecht gebore. Hy was die seun van Pieter van der Hoff en Jacoba Botbijl. Nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het, is hy in 1833 na Leiden om hom in die teologie te bekwaam. In Mei 1840, nadat hy die proponentseksamen geslaag het, word hy beroepbaar gestel. Veel meer as dit is nie oor sy ouerhuis en jeugjare bekend nie.
In daardie stadium was daar ’n oorvloed van predikante in die Nederlandse Hervormde Kerk en moes Van der Hoff 12 jaar wag op ’n beroep. Terwyl hy op ’n beroep gewag het, het hy onder meer by die bekende boekhandel van Frederik Muller in Amsterdam gewerk. Hier is hy getroud met AM van Otterloo. Prof UG Lauts, ’n pleitbesorger vir die belange van die Trekkers, oortuig Van der Hoff toe om ’n beroep na die Transvaal te aanvaar.
Die egpaar vertrek per skip na Kaapstad waar hulle op 5 November 1852 aanland. Vyf maande later het hulle na Natal vertrek om vandaar die reis na Transvaal oor land voort te sit. Op 27 Mei 1853 kom hulle eindelik in Potchefstroom aan. Ses jaar lank was ds Van der Hoff die enigste predikant in die Transvaal, en hy bedien die Potchefstroomse gemeente tot sy dood op 9 Oktober 1881.
Op 8 Augustus 1853 besluit die Eerste Algemene Kerkvergadering saam met lede van die Volksraad om nie onder die Kaapse Sinode te ressorteer nie. Ds Van der Hoff was met sy aankoms ten gunste van die inlywing van die Transvaalse gemeentes onder die Kaapse Sinode. Hy het egter gou agtergekom dat die meeste Transvalers teen die inlywing gekant was. Daarom het hy gesloer om hom deur ds A Murray van Bloemfontein te laat bevestig, soos wat daar met hom gereël is toe hy nog in die Kaap was. Die redes wat gegee is waarom die inlywing onder die Kaapse Sinode nie deurgevoer is nie, was die feit dat die Kaapse Kerk nie aan die Voortrekkers ’n predikant wou voorsien nie en dat die Transvalers nie onder die reëls en regulasies van die Kaapse owerheid en kerk wou val nie. Ds Van der Hoff is toe deur oudl FG Wolmarans bevestig, wat as voorsitter van die Algemene Kerkvergadering opgetree het.
Baie hou ds Van der Hoff egter verantwoordelik vir die verwydering tussen die Kaapse NG Kerk en die Transvaalse Hervormde Kerk, en voer aan dat hy teologies liberaal was en nie gemaklik sou voel in die meer konserwatiewe Kaapse Kerk nie.
Waarskynlik gaan daar nooit ’n voldoende antwoord gegee word op die vraag of ds Van der Hoff om teologiese redes die handhawing van ’n onafhanklike kerk in die Transvaal gesteun het nie. Dit is egter onwaarskynlik dat ons Van der Hoff as totaal liberaal kan tipeer. ’n Nederlander wat aangeraai is om ’n erediens van Van der Hoff by te woon om te sien of Van der Hoff iets sou leer wat in stryd met die evangelie is, skryf in 1856 aan sy opdraggewer dat die preek geheel Evangelisch en van veel nut was.
Dat Van der Hoff egter nie streng behoudend was nie, is ook duidelik. Veral die woorde wat hy gebesig het op 20 November 1865 tydens die Vyftiende Algemene Kerkvergadering was ’n bron van groot ontsteltenis vir baie in die Transvaal.
By die vergadering het Van der Hoff gestel dat hy glo die uitverkiesingleer is ’n groot zwarigheid. Nog belangriker as dit, is die stelling wat hy gemaak het dat hy glo in die leer van die Kerk, soos wat dit vervat is in die belydenisskrifte, insover (quatenus) dit ooreenstem met die Skrif. Dit klink vanselfsprekend, maar in die konteks van die 19de eeu was dit ’n bom wat ontplof het. Die behoudend-konserwatiewe standpunt was dat ’n mens die belydenisskrifte onderskryf omdat (quia) dit met die Skrif ooreenstem. Daar is volgens dié standpunt geen moontlikheid dat die kerklike belydenisskrifte van die Skrif verskil nie. Hierdie vraag na die omdat of insover het direk aanleiding gegee tot die Afskeiding van die Gereformeerde Kerk in Nederland in 1834 waaruit die Gereformeerde Kerk hier in Suid-Afrika ontstaan het.
Die uitlatings van ds Van der Hoff sou nog lank daarna spanning veroorsaak. Die ander predikante (intussen het di Begeman, Smits en Van Warmelo in die Transvaal aangekom) het hul teenstem teen Van der Hoff se stellings aangeteken. Gemeente Lydenburg het selfs so ver gegaan om vir ’n tweede maal in 1866 van die Hervormde Kerk af te skei. Dit het verder direk daartoe aanleiding gegee dat ds Frans Lion Cachet in 1866 die Transvaal deurkruis het en gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk gestig het om, volgens hom, die suiwerheid van die leer te beskerm.
Deels as gevolg van ds Van der Hoff se uitlatings is die Hervormde Kerk (en word ons steeds vandag) as ’n teologies-liberale Kerk beskryf. Die Hervormde Kerk kan egter nie as vrysinnig afgemaak word as gevolg van die aksies van een van haar leraars nie. Die optrede van die Algemene Kerkvergadering teen Van der Hoff en die amptelike stukke van die Kerk getuig dat die Hervormde Kerk nie vrysinnigheid sonder meer geduld het nie. Die Hervormde Kerk het wel met betreklike verdraagsaamheid met leerkwessies omgegaan.
Ds Dirk van der Hoff was bekend daarvoor dat hy in die hitte van die stryd opvlieënd kon raak en kras uitsprake gemaak het, maar sy lojaliteit ten opsigte van die Hervormde Kerk, die ZAR en die Afrikaners se vryheidsideale het waarskynlik meegebring dat hy nie net verduur is nie, maar selfs met waardering onthou word. Met toewyding, opoffering, deursettingsvermoë en sterk leierskap het ds Dirk van der Hoff sy aangenome land en mense vir meer as 28 jaar te midde van groot ongerief en gevaar gedien en gelei.
(Ds Willem Dreyer is leraar in Delareyville)