Benoude Bertus van Brandvlei skryf: Beste Oupa Stoep, ek het aan Oupa se postuur gesien dat Oupa nie skaam is om te eet nie, daarom hoop ek Oupa kan my help met ’n kosverwante vraag: As ek probeer vleis braai, eindig ek op met swart verkoolde brandoffers in plaas van sappige lendeskywe. Kan Oupa my help om ’n meesterbraaier te word?

Beste Bertus, jy vra nou vir Oupa ’n lewensgevaarlike vraag. As daar een les in die lewe is wat Oupa geleer het, is dat elke persoon sy of haar eie manier van braai het, en, op risiko van ernstige beserings opdoen, bôdder jy nie daarmee nie!

Oupa het baie vroeg in sy bediening hierdie les op ’n praktiese manier geleer: Dit was ’n normale, rustige Saterdagaand toe Oupa ’n baie benoude oproep van een van sy lidmate kry. Daar is groot moeilikheid by hul bure, ook gemeentelede, en die man is nogal ’n diaken. Oupa (toe nog Klein Dominee) moet dadelik kom, anders is dit tronksake vir die diaken…

Op die toneel aangekom, kry Oupa die diaken in ’n woeste stoeigeveg met ’n ander man. Dit blyk toe sy swaer te wees. Ek sou later uitvind die swaer se bynaam is Eno’s – ’E knows everything. Dié het kom kuier by sy diakenswaer. Toe die diaken sê hulle gaan braai, het Swaer Eno’s vir hom gesê waar hy die braaier moet trek, toe wys hy vir hom hoe om die vuur te pak en hoe om dit aan te steek. ’n Bietjie later beduie Swaer dat die kole reg is en gee toe ’n les oor hoe hoog die rooster gestel moet word.

Daarna het hy vleis, wat Diaken met groot sorg by die slaghuis uitgekies en laat voorberei het, versnipper in stukkies wat volgens hom die beste sou braai. Hy het hulle uitgepak op die rooster, en toe hy die braaitang uit Diaken se hand vat om die vleis om te draai, toe was dit die laaste strooi. Diaken het vir Swaer die braaitang gegee… en ’n paar stewige opstoppers!

Oupa het die twee  al stoeiende op die grond langs die braaier gekry. Dit was nogal ’n treffende toneel: Die vlamme van die vleis wat aan die verkool was, het die stoeiendes so verlig dat dit gelyk het na ’n rofstoeiwedstryd op die televisie.

Daar het Oupa geleer: Jy praat nie oor iemand anders se braaitegniek nie. Maar terug by jou vraag. Die beste raad wat Oupa vir jou kan gee, Bertus, is om te belê in ’n paar braairesepteboeke. Daar is ’n hele paar goeies beskikbaar. Oefen dan skelm ’n paar resepte tot jy een kry wat vir jou werk, en nooi dan eers gaste oor vir ’n braai. Jy sal gou-gou die titel Koning van die Kruisskyf verwerf.

Oupa gaan jou wel laat met ’n wenk wat hy weet werk. Almal wat raad wil gee oor die beste braaitegniek, sal vir jou beduie om nie voor jy braai jou vleis te sout nie. Dit maak die vleis taai. Oupa het eers toe hy verby sy vyftigtal in jare was die triek geleer: Jy moet so 90 minute tot ’n uur voordat jy gaan braai jou vleis uit die yskas uithaal en dit liggies sout aan albei kante. Daar vind die een of ander ingewikkelde chemiese reaksie plaas, maar al wat Oupa weet, is dit: Die vleis is daarna murgsag as jy dit braai.

Gooi kole, Bertus!