In ’n treffende artikel sê dr Tanya van Wyk in Beeld van 3 Junie 2020 dat die Covid-virus baie aspekte van ons “laslappiewêreld” ontbloot het. Sy verwys onder andere na woorde van Charles Dickens in A tale of two cities.

It was the age of wisdom, it was the age of foolishness,
it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity,
it was the season of light, it was the season of darkness,
it was the spring of hope, it was the winter of despair.

Sy toon aan dat ons baie grense moes oorsteek, moes saamwerk, ongelykhede in die samelewing moes raaksien, aanpassings moes maak, lafenis in die woestyn moes soek. Die lafenis het gekom deur die krag van die Heilige Gees om sodoende mens in die wêreld vir die wêreld te wees.

Dr Van Wyk se artikel het my baie laat dink aan ons eie Kerk se doen en late die afgelope 55 jaar dat ek predikant is. In my lewe was my belewenis dat ons Kerk se denke en gevolglik sy werk in die wêreld dikwels vasgevang was deur tradisie en die politiek van die dag en nie werklik altyd teologies-wetenskaplik-prakties was nie. Ek dink veral aan ons eredienste.

Hoewel die Diensboek al vir baie jare voorskrifte gee vir hoe predikante eredienste kan en behoort in te rig, het baie gemeentes bly vaskleef aan die ou diensordes. As hulle nog uit die verskeidenheid meer as een orde benut het, was dit iets anders. Die meeste het vasgekleef aan een orde… Sondag na Sondag, maand na maand, jaar in en jaar uit.

Was hierdie formalisme nie miskien een van die belangrikste redes waarom baie, veral jonger mense, die Kerk verlaat het nie? Het ons nie oor hierdie baie belangrike saak – soos Paulus sê – gepraat, gedink, geredeneer soos kinders nie? Of soos hy in Filippense sê, nie in liefde met fyn aanvoeling onderskei waarop dit aankom nie?

Het Covid nie ander perspektiewe na vore gebring nie? Het Covid ons nie werklik laat dink, besin en beplan nie? Gedurende Covid het feitlik elke predikant weer besin oor verskeie aspekte van die evangelie en die erediens.

Met die volgende het ek self kennis gemaak:

Eredienste

  • Verskeie digitale platforms waarmee eredienste oor feitlik die hele wêreld versend word, word gebruik. Kinders, familie en vriende in ver lande neem saam deel aan ’n gemeente in Suid-Afrika se eredienste.
  • Eredienste is baie korter, soms net 15 minute.
  • Eredienste bestaan net uit die preek, een lied en ’n gebed.
  • Eredienste is baie meer informeel.
  • Kleredrag is nie meer so formeel nie.
  • Die predikant hou soms die diens sonder ’n toga, en selfs sonder das en baadjie.

Liedere

  • Liedere word gesing uit die Liedboek en VLAM.
  • Daar word geluister en gesing met ’n CD as begeleiding.
  • Daar word gekyk en geluister na ’n Christelike lied deur ’n bekende sanger.
  • Die begeleiding is met ’n kitaar of ’n ander musiekinstrument in plaas van ’n orrel.

Gebede

  • Die gebede is baie korter en meer informeel.
  • Daar is net een gebed.
  • Almal sit tydens die gebed.
  • ’n Psalm of Gesang word benut as gebed.
  • Meer as ooit word die afhanklikheid van God en die nood van mense in die gebede verwoord.

Wet en geloofsbelydenis

  • Die wet en geloofsbelydenis kom nie in elke erediens voor nie.
  • Nie net die bekende tien gebooie en opsomming van die wet word gebruik nie, maar ook ander toepaslike Skrifgedeeltes.
  • Gesange word benut as geloofsbelydenis.

Preke

  • Die preke is oor die algemeen minder dogmaties en meer pastoraal.
  • Preke is oor die algemeen baie korter en treffender.
  • Die preke is meer konkreet. Dit het ’n boodskap vir elke dag.
  • Nie net Sondae nie, maar daagliks is daar boodskappe wat elektronies op die een of ander wyse oor feitlik die hele wêreld versend word.
  • Die boodskappe is meer op die Here en die behoeftes van mense gefokus as op die kerk.
  • Boodskappe het ’n sterk missionale karakter.

Nagmaal

  • Nagmaal word bedien aan almal wat in Jesus glo en nie net aan persone uit kerke met dieselfde belydenis as ons s’n nie.
  • Nagmaal word bedien aan volwassenes en kinders.
  • Nagmaal word bedien aan die tafel, maar ook in die banke.
  • Die wyn word bedien uit die beker, maar ook met kelkies.
  • Die brood en wyn/druiwesap word vooraf verpak.
  • Nagmaal word digitaal bedien aan gemeentelede tuis.

Wat het gebeur? Kyk mooi, dink mooi…

Daar was nie meer net een vaste patroon met elke erediens en oral omtrent dieselfde nie. Die teikengehoor (lidmate en luisteraars, die gemeentelede se situasie, Covid-19,) was mede-bepalend vir die inrig van die erediens. Is dit nie hoe in die Department Praktiese Teologie en die praktykopleiding sedert 1980 geleer is nie? Is dit nie die breë riglyne waarop in 2007 tydens die 68ste Algemene Kerkvergadering besluit is en wat in die Diensboek van 2008 beskryf word nie?

Met die oog op groei en betrokkenheid, en voorkoming van stagnering en formalisme, behoort die volgende in berekening gebring te word wanneer ’n erediens beplan word: die teks, doel van die erediens (boodskap), teikengehoor, plek, tyd en omstandighede waartydens die erediens plaasvind. ’n Predikant behoort nie net preek te maak nie, maar elke keer ook erediens. As dit gebeur, sal baie van dit wat nou abnormaal en buitengewoon is, dalk die algemene en normale word.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)