Paniekbevange Pastoriemoeder van Petrus Steyn vra: Beste Oupa Stoep, my man is onlangs bevestig in Petrus Steyn. Dit is ons eerste gemeente, so ons is nog baie onseker oor baie dinge. Een van die tannies in die gemeente is terminaal siek en ek weet ek gaan een van die dae moet help met die reëlings rondom haar roudiens. Hoe werk die teedrinkery na die tyd? Wat sit mens voor? Wie dra watter onkostes, nie net vir die teedrinkery nie, maar vir alles tydens die roudiens? Help asseblief!
Beste Pastoriemoeder, as Oupa kan probeer om vir jou goeie raad te gee, dan sal dit wees dat jy van die begin af vaste reëlings in plek moet sit. Oupa het, toe hy net na die runderpes predikant geword het, dit so gekry dat die volgende reëlings gegeld het: Vir lidmate van die gemeente is daar geen koste vir ’n roudiens nie; persone wat nie lidmate is nie, kan gevra word om ’n bedraggie te betaal vir die koster en die orrelis, as hul dienskontrakte bepaal dat roudienste nie deel van hul normale verpligtinge is nie. Die susters van die gemeente help met die verversings na die diens en hulle doen dit as liefdesdiens.
As dit van jou verwag word om hierdie verversings te reël, wil Oupa aan die hand doen dat jy van dag een af die standaard stel. Die susters neem verantwoordelikheid vir die skink van tee en koffie en die maak van broodjies. As die familie iets meer as broodjies wil voorsit, neem hulle self daarvoor verantwoordelikheid. Vir Oupa is ’n roudiens nie ’n roudiens as daar nie eierbroodjies te ete is nie. Sien, Oupa vrek oor eierbroodjies. Oupa is ’n fynproewer van eierbroodjies en het die kosbare raad gekry dat die maklikste en lekkerste eierbroodjies gemaak word as mens roereiers maak en dié dan meng met mayonnaise en as smeer gebruik. Dit is baie makliker as om eiers te kook, met ’n gesukkel af te dop en dan fyn te maak.
Oupa was dus effe uit die veld geslaan toe hy met die weduwee van ’n dierbare vriend sit en praat oor die reëlings vir haar man se roudiens. Koos was lank baie siek en het seker besef dat die einde naby is en hy was baie spesifiek, het sy vrou vir my gesê. Hy soek nie voertsekbroodjies op sy roudiens nie, het hy vir haar gesê. Toe Oupa vra wat voertsekbroodjies is, moes hy hoor dat dit Koos se naam vir eierbroodjies was. Oupa moes maar by Koos se roudiens tevrede wees met worsrolletjies, frikkadelle en klein hoenderpasteitjies.
Oor wie vir wat moet betaal by ’n roudiens, het Oupa ’n baie sterk oortuiging. Oupa besef elke gemeente het sy eie reëlings, maar in al die jare het Oupa daarop gestaan dat ’n roudiens by uitstek die geleentheid is wanneer die gemeente haar sagte kant moet wys. Om te moet voorskryf dat dit x bedrag gaan kos vir ’n roudiens wanneer die naasbestaandes soveel ander dinge het om hulle oor te bekommer, was vir Oupa net onaanvaarbaar. Oupa sou, as nie-lidmate daarna vra, sê dat hulle ’n bedraggie vir die koster en orrelis kon skenk. Self wou Oupa nooit geld vir ’n roudiens hê nie en nooit het Oupa toegelaat dat ’n fooi vir die gebruik van die kerkgebou gehef word nie. Om ’n bekende spreuk in die kerk effe te verander: As dit by roudienste kom, sondig Oupa veel eerder teen ’n begroting as wat hy sondig teen die liefde.
Oupa is nou so opgeklits dat hy terstond vir hom ’n eierbroodjie gaan maak…