Lees Lukas 23: 33-49

Die hoofman van die Romeinse soldate, wat die dag met Christus se kruisiging diens gedoen het op Golgota, het die oomblik toe Christus sy laaste asem uitgeblaas het, uitgeroep: Waarlik, hierdie man was die Seun van God (Mark 15: 39, AFR33/53).

Dit is ’n belydenis van grootse betekenis. Hy het nie dié belydenis uitgespreek terwyl hy gesien het hoe Christus gepreek en wonderwerke gedoen het nie. Nee, hy het die belydenis uitgespreek terwyl hy Christus sien sterf het. Dus, oorval deur die Heilige Gees, het hy iets van God se vreemde liefde en onbeskryflike groot krag aanskou toe Christus in ’n staat van diepe ontsetting en vernedering die offer van redding gebring het.

Deur die Heilige Gees het hy iets gesnap van die onpeilbare geheim, dat die kruis, die totale werklikheid, verlos. As ’n Romein in diens van die weermag van die magtigste ryk ooit, moes dit vir hom alles onthutsend vreemd gewees het.

Volgens sy ervaring, het hy geweet dat die held, die seun van ’n god – soos die Romeine geglo het – slegs triomfeer deur sy vyand dood te maak. En ons dink ook so. Die ware held sterf, volgens ons opvatting en verwagtinge, nooit op vernederende wyse en dan nog boonop as misdadiger nie. Nee, die held se vyand byt, in die reël, vernederend in die stof.

Maar, daardie dag op Golgota aanskou die Romeinse offisier hoe die Seun van God van Israel uiteindelik op grusame wyse sonder verweer sterf, soos ’n skaap wat geslag word, en dit is toe dat daar met hierdie Romeinse soldaat ’n wonder gebeur – en dit kan net ’n wonder deur die Heilige Gees wees. Hy besef dat dit wat daar voor sy oë afspeel, goddelik is. Dat dit wat gebeur, waaragtig ingaan teen die grein van alles wat aards en natuurlik is. God oorwin die sonde en dood (en alle raaisels) deur die offer van sy Seun, wat plaasvervangend sterf om te oorwin. Dus, God oorwin die dood deur die dood van sy Seun.

En straks op die Sondag wat sou volg, sou hy kennis neem dat die God wat oorwin deur sy dood, dit kon doen omdat Hy uit die dood kon opstaan.

Ook ons wat nog in die tyd tussen die tye leef, dus nog in hierdie voorlopige bedeling, ken vernedering en slae, en moet soms deur storms gaan. En elkeen van ons sal eenmaal deur die groot onbekende dal van die dood moet gaan. Ons weet nie aldag hoe ons deur die duisternis van angs en sorge sal kom nie… Ons weet nie wat vir ons in ons sterwensuur wag nie.

Wie egter bely dat Christus die Seun van die lewende God is en in die geloof Hom in sy sterwensmarte aanskou, kan weet dat hy of sy sal deel in sy oorwinning, alle nood sal oorkom en in vrede sal sterf.

Wat kan ’n mens meer troos as hierdie vrolike evangelie? Al wat ons kan doen, is om met dankbaarheid met sy kerk mee te leef en voortdurend die oë biddend op ons Heer en Verlosser te vestig.

Amen.