Op 20 Februarie 2025 het die Inligting- en Besprekingsvergadering by Gemeente Pretoria-Oos plaasgevind. Predikante van heinde en ver het dié beplanningsgeleentheid bygewoon in aanloop tot die byeenkoms van die Algemene Kerkvergadering (AKV) later vanjaar. Maar hierdie geleentheid het ook gedien as ’n platform vir ’n aantal besprekingspunte deur middel van spesifieke aanbiedings.
Ds Hannes van der Merwe (skriba: Kommissie van die AKV) het onder andere ’n aanbieding met die titel Alternatiewe vorme van kerkwees voorgelê. Hierdie aanbieding het die geleentheid geskep vir bywoners om saam te besin oor hoe ons as gelowiges kan aanhou kerk wees in ’n wêreld wat drasties verander. Die fokuspunt van dié aanbieding was die aangeleentheid van sentralisasie en desentralisasie in die Kerk en tussen gemeentes. Hierdie aanbieding het terselfdertyd vars perspektiewe geskep oor die toekoms van die kerk asook die ruimte geskep waar daar oor die inkarnerende en missionale kerk gereflekteer kan word in ons ewig veranderende wêreld. Die realiteit is dat die kerk van alle eeue se kontekste verskil het en daarom soms verskillend van mekaar gefunksioneer het, en ons huidige samelewing is geen uitsondering nie. Dit is van kardinale belang dat gelowiges saamspan om die toekoms van die kerk te probeer verseker, en dit is presies dié kwessie wat só ’n aanbieding aanspreek.
Die aanbieding het van ons gevra om die wêreld van kerkwees kreatief te benader. en om moontlike alternatiewe vorme van kerkwees te konsidereer. Vervolgens is dit nodig om fyn ingestel te wees op die konteks van ons unieke gemeentes, daaroor te reflekteer en uiteindelik te reageer. Verskeie moontlikhede vir hoe gemeentes in die toekoms kan funksioneer, is bespreek, onder andere ankerpuntgemeentes deur digitale bediening en bediening deur opgeleide ouderlinge. Een van hierdie voorstelle het juis vorm aangeneem met die eerste vyf graduandi van die Diploma in Bediening wat die vorige dag, 19 Februarie, by Gemeente Philadelphia tydens die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) se opening oorhandig is (lees meer op bl 8).
Daar is wel tog ’n positiewe tendens wanneer dit by digitale bediening kom. Dit raak meer algemeen dat gemeentes hul eredienste regstreeks op sosialemediaplatforms soos YouTube, Tiktok, of Facebook uitsaai. Ons sien ook meer en meer predikante wat gemakliker word om bemarkingsopnames te deel en selfs studentegemeentes waar lidmate deel vorm van sulke opnames. Dit is steeds die kerk van alle eeue, maar ons huidige samelewing vra van ons om so bietjie anders te funksioneer. Hierdie moontlike oplossings en hul volhoubaarheid sal ook op die AKV dien vir bespreking.
(Ds Iwana Hartmann is die joernalis van die NHKA en is predikant in Gemeente Pretoria-Oos)