Dikwels sit ons by die werk en tel die ure af tot wanneer ons by die huis kan kom en ’n warm stort en bord kos kan geniet. Ons kom by die huis en draai die kraan oop en daar is lopende warm water, ons loop na die kombuis en daar is ’n warm maaltyd wat op ons wag. Maar hoeveel keer op pad na hierdie warm stort en bord kos let ons op na dit wat ons langs die pad sien? Hoeveel van ons reik na ons telefone of soek kamstig na iets in ons kar wanneer die verkeerslig rooi is net om oogkontak met die bedelaar te vermy? Hoeveel van ons kyk op en sien die realiteit raak? En nee, ek praat nie van die slaggate of die verkeersligte wat nie in ’n werkende toestand is nie. Ek praat van die mense wat honger, dors, en bang langs die pad sit. Ek praat van die hawelose mense. Hoeveel van ons dink aan die alledaagse noodsaaklikhede waartoe hulle nie toegang het nie? Hoeveel keer kyk ons waarlik op?

Hierdie was van die vrae waarmee di Janine Bevolo-Manders en Jimmy Manders, die leraars van Gemeente Witfontein in Pretoria-Noord, geworstel het. Oudl Kieviet Botha vertel dat dié inisiatief drie jaar gelede ontstaan het ná afloop van sop en koffie wat uitgedeel is om juis die hawelose mense te ondersteun. Die leraars en vrywilligers het opgekyk en gevra: Maar waar stort dié mense?

Die stortprojek is daarná moontlik gemaak deur ’n donasie van ’n stortwaentjie deur ’n lidmaat van Gemeente Rustenburg-Tuine. Hierdie stortwaentjie, beter bekend as Witfontein se yellow submarine, is toegerus met ’n gasgeiser en ’n 12V-pomp. Dit stel die gemeente in staat om weekliks tussen 20 tot 22 mense te akkommodeer. Wanneer hulle arriveer, ontvang hulle hul persoonlike stortsakkie met hul naam op. Hierdie sakkie bevat alles wat nodig is, naamlik tandepasta, ’n tandeborsel, deodorant, en ’n skeermes. Die sakkie word gepak na gelang van die persoon se geslag. Daar is dan ook ’n geleentheid vir die mans om hul hare te laat sny en hul baarde te skeer. Een dame vertel dat hulle nie voel asof daar op hulle neergekyk word nie. Hulle voel welkom en word vriendelik gehelp. In haar woorde: Ek kan net sê baie, baie dankie.

Hierdie projek word nie geadverteer nie, maar dit word eerder spontaan bekend gemaak deur die mense wat op straat woon. Hulle kyk as’t ware ook op rondom hulle en reik uit na mekaar. Hulle kyk op en trek dié rondom hulle na ’n geleentheid vir ’n warm stort en ’n bord kos. Een van die dames wat al vir twee jaar weekliks na Gemeente Witfontein kom, vertel: Ons reik uit na mekaar en is altyd daar vir mekaar. Ek het lief geword vir die mense wat ek hier leer ken het.

Tot dusver het daar al 137 stortgeleenthede plaasgevind met 1 348 mense wat ’n warm stort kon geniet en meer as 2 082 warm borde kos is oor die laaste drie jaar uitgedeel. Die volhoubaarheid van die stortprojek word onderhou danksy gemeentelede wat ook opgekyk het. Hierdie gemeentelede wat hul tyd en dienste op Donderdae opoffer, asook kos- en toiletbenodighede skenk, dra by tot ’n ware gemeenteprojek.

En alhoewel die warm stortgeriewe en bord kos behoeftige mense in die gemeenskap lok, is dit nie al wat hulle daar hou nie. Verskeie individue gesels oor hoe hulle gemeenskap gevind het by Gemeente Witfontein. Hulle het nie net ’n veilige hawe gevind waar hulle op Donderdae met ope arms sonder enige oordeel verwelkom word nie, maar ook ’n plek waar hulle elke Sondag tuis voel. Hierdie mense woon ook Sondae die eredienste by om na die Woord van God te luister. Hulle het deel geword van ’n geloofsgemeenskap en dit kan duidelik gesien word in stellings soos: Die stortprojek beteken vir my die wêreld, want was dit nie vir Gemeente Witfontein nie, het ek nie teruggekeer na my Saligmaker en my verlosser God nie. Ek is elke week hierso.

Jy kan ook betrokke raak by die projek, hetsy deur middel van ’n donasie of deur te help om stortsakkies te pak of kos te bedien. Kontak gerus vir ds Jimmy Manders (083 254 4771) vir meer inligting.

(Ds Iwana Hartmann is predikant in Gemeente Pretoria-Oos en die NHKA se joernalis)