Ashlyn speaks Afrikaans! She must be a very special child! God must really love her very much… Dít was die opgewonde reaksie van my vierjarige Engelssprekende dogter op haar kleinsussie se eerste woorde – en dit het ousus blykbaar so geïnspireer dat háár Afrikaans deesdae beter as myne is…

Ons ken daardie gevoel wanneer jy die soetste taal op ’n onverwagte plek hoor – op ’n straathoek in Chicago of Madrid, in die voorportaal van ’n hotel in Buenos Aires of Nairobi, in ’n winkel in Dubai of Bangkok, op ’n treinstasie in Tokio, op die markplein in Marrakesj of by die koektafel van ’n kerkbasaar in Christchurch.

Op 8 Mei vanjaar vier ons die eeufees van Afrikaans as ’n amptelike taal van Suid-Afrika. Wet 8 van 1925 het hierdie status aan die taal toegeken, naas Engels en Nederlands – of, meer akkuraat, die definisie van Nederlands is uitgebrei om Afrikaans in te sluit. Hierdie gebeurtenis was ’n belangrike mylpaal vir ’n taal wat ontstaan het uit ’n ryk mengelmoes van tale en kulture, en wat gevorm is deur ’n ontmoeting tussen Europa, Afrika en Asië aan die suidpunt van Afrika. Afrikaans se ontstaan is te danke aan mense wat hulself moes uitdruk in ’n nuwe wêreld – al die lief en leed, vreugde en verlange, triomf en teleurstelling. Die erkenning van Afrikaans as een van die amptelike tale van Suid-Afrika was beslis ’n keerpunt wat die weg gebaan het vir die taal se ontwikkeling tot ’n volwaardige wêreldtaal.

Sedert 1925 het die eertydse kombuistaal ver gevorder. Die krag van Afrikaans lê steeds in die taal se vermoë om met eenvoud en egtheid reguit met ’n ander se hart te praat. Dit is ’n taal waarin moeiteloos uiting gegee kan word aan elke denkbare emosie – van diep verlange en nostalgie tot intense liefde en vreugde. En dit is nie net ’n taal nie; dit is ’n tuiste, ’n kompas en ’n bron van trots.

Die taal se skoonheid bly eenvoudig bekoor. Dit is die taal wat met die volgende juwele vorendag kon kom, meer as 100 jaar uit mekaar:

Uit: Winternag (Eugène Marais)

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.

reën (Christine Barkhuizen-le Roux)

nóg klem die persbergdraaibos
die somerstof
in kleingekrimpte handjies vas
maar op die suidooswind
ruik ek die eerste reën
en skielik
skarrel ’n skare geel
blare soos kuikens oor die werf

So belangrik soos die gebeure van 8 Mei 1925 vandag mag lyk, so gering was die impak wat dit op die Kerk gehad het. ’n Mens soek tevergeefs in 1925 se uitgawes van De Hervormer (eers vanaf 1931 Die Hervormer genoem) na enige aanduiding of vermelding van die groot nuus.

Ek het by die Kerk se argivaris, mnr Nándor Sarkady, hieroor kers opgesteek. Sy eie navorsing het bevestig dat daar geen beriggewing in die NHKA se kerklike media (De Hervormer en Almanak) was wat aandag aan die staat se handeling gegee het nie – ook nie enige vermelding daarvan in notules, verslae en korrespondensie van die AKV en die Algemene Kommissie sowel as herderlike skrywes nie. Die eerste notule van die AKV in Afrikaans was in 1931, maar in die teks is geen verwysing na taal nie.

Afrikaans word eers ’n punt van bespreking in die aanloop tot die 1933-Bybelvertaling en toe het dit slegs gegaan oor die goedkeuring en gebruik van die vertaling. Die volle aanvaarding van Afrikaans as kanseltaal was uiteindelik ’n noodwendige gevolg van die Bybelvertaling. Volgens mnr Sarkady toon die argivalia aan dat die oorskakeling na Afrikaans in die Kerk organies was en oor ’n lang tydperk plaasgevind het. Daar was geen noodsaak om amptelik besluite daaroor te neem nie.

Hoewel nie wyd en algemeen nie, is Afrikaans sedert ongeveer 1910 as liturgiese taal in die Kerk gebruik (weliswaar nie sonder omstredenheid nie, soos ds Carel Johann de Bruin ons in sy historiese bydrae in hierdie uitgawe herinner). De Hervormer het reeds lank voor 1925 Afrikaanse bydraes bevat. Eugène Marais se Winternag dateer uit 1905. Die taal was dus reeds goed gevestig teen die tyd dat dit amptelike status verkry het.

Afrikaans se geskiedenis is lank en kompleks. Daar word algemeen aanvaar dat die oprigting van ’n verversingstasie aan die Kaap die begin van die ontwikkeling van die taal aantoon. Daar is egter navorsers wat tekens van Afrikaans gevind het in geskrifte wat van vóór 1652 dateer. ’n Ander datum wat soms verkies word as verjaardag van Afrikaans is 14 Augustus 1875 – die dag waarop die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl gestig is. En aangesien Wet 8 van 1925 terugwerkend van krag was tot die datum van uniewording, het 31 Mei 1910 ook simboliese waarde. 

Afrikaans mag dus moontlik meer as een verjaardag hê – dalk selfs nog een in die toekoms… Vier die taal se verjaardag op 8 Mei 2025 – en vier die taal met oorgawe elke dag daarna! En kom ons hou op om ’n sterfdatum te antisipeer – dit is ongetwyfeld onsinnig, voortydig en oordrewe.

Op 22 Mei 1961 is ’n Jamie Uys-rolprent oor die ontstaan, ontwikkeling en stryd om die voortbestaan van Afrikaans uitgereik. Vandag leef en floreer die dinamiese en veerkragtige taal op plekke en platforms ver buite die tradisionele grense. Die titel van Uys se rolprent is vandag nog net so waar oor Afrikaans: Doodkry is min.