Op 19 Maart het die Hervormde teologiestudente die NHKA se argief by die Voortrekkermonument besoek. Mnr Nándor Sarkady en dr Christo Pretorius het die studente, naamlik Anushke Muller, At Hattingh, Corlia Saunders, Lané Truscott, Nicole MacLachlan en Rolandi McGeer verwelkom.
’n Oorsig is aan die studente gegee rakende die geskiedenis en noodsaaklikheid van die Argief se proses vir gemeentedoeleindes maar ook vir geskiedkundige doeleindes en rekordhouding. Die studente is die geleentheid gebied om deur dokumente soos notules en registers in die Argief te blaai. Hulle kon selfs van hul professore se name herken vanuit sommige van die Van der Hoff-notules! Mnr Sarkady het ook die studente op ’n toer deur die Argief geneem waarna hulle saam met dr Pretorius die Voortrekkermonument kon besoek. Daarna het hulle lekker saam gekuier en gesels.
Een van die studente, Anushke Muller, vertel: Die Voortrekkermonument en Argief was baie interessant. Net om te weet dat al die Hervormde gemeentes in die hele Suid-Afrika se dokumentasie in een plek reg voor ons is, was werklik asemrowend. Wat ’n voorreg was dit nie om dit te kon sien en saam te kon beleef nie. Dis ongelooflik dat die geskiedenis van die Kerk so mooi bewaar word.
Enige navrae rakende die Argief kan aan mnr Nándor Sarkady (argief@nhk.co.za) gerig word.
(Ds Iwana Hartmann is predikant in Gemeente Pretoria-Oos en die NHKA se joernalis)

Anushke Muller, Nándor Sarkady, dr Christo Pretorius, Nicole MacLachlan, Rolandi McGeer, At Hattingh, en Corlia Saunders en Lané Truscott wat voor staan





