Ouderling-skriba AJ Willemse berig in De Hervormer van 15 Oktober 1925 oor Gemeente Roossenekal se nagmaalsviering van September. Oom Adam, ’n onderwyser by Witkleifonteinskool, span sy woorde netjies in met pragtige Afrikaans. Die opkoms was so goed as nog ooit tevore in hierdie tyd van die jaar. Laat ons hoop dat dit nie net was omdat die aarde nat was van die reën wat op 11 September begin het nie, maar omdat dit droog was in die siele van die gemeente. Voorts oor ds Johannes GM Dreyer, hul predikant (1924-1928) van die kombinasiegemeente Lydenburg-Dullstroom-Roossenekal: Ds was ernstig in die prediking, vir my ernstiger as tevore … Jammer dat Sy Eerwaarde hom nog steeds bedien van Hollands.

Ds GE Alers lid van De Hervormer se redaksie reageer met ’n groot omhaal van woorde in die November-uitgawe oor wat hy noem de heer Willemse se een ongegronde klacht. Die Nederduitsch Hervormde Kerk het nie amptelik op vergaderings, en ook nie in die kerklike tydskrifte, die wetlike erkenning van Afrikaans as amptelike taal op 8 Mei 1925 vermeld nie. Tog vind ons hier aan die einde van daardie taaljaar ’n vurige debat oor Afrikaans. Ds Alers vermoed dat die klagte van oudl Willemse ’n persoonlike uitlating is, of slegs die mening van ’n minderheid, selfs ’n klein minderheid van die Roossenekallers. Oudl Willemse troef dit met die feit dat hy al 42 jaar deel van die gemeente is. Hy kén die mense en weet wat hulle verstaan.

Ds Alers trek sy swaard. Met die wegtrek van sy argument het hy dit oor die gebruik van oudl Willemse se woordje “steeds”, dat toch ook erg Hollands smaakt. Ds Alers redeneer dat die hele erediens en liturgie harmonies ’n taaleenheid moet vorm. Een rommelig kerkgebou met stoelen en banken ordeloos door elkaar is storend voor de stichting. En dus verbreek ’n preek in Afrikaans de zo nodige éénheid van de Kerkelike Dienst. Hy pleit dat Nederlands eerder na waarde geag moet word. Afrikaans is een schakering van ’t Nederlands. Afrikaans, een mooie taal met een prachtige toekomst, zich verrijkt door ’t Hollands; om niet verarmd te raken door ’t Engels. Hy redeneer dat die NHKA met al die vesels van haar bestaan gewortel is in die Hollandse gees. Oudl Willemse vra: Is ’n táál nodig om ons wortels te onthou?

Gebelgd wys die vurige veldkornet Willemse op ds Alers se swaard. Een sin teenoor ’n stuk van twee kolomme bewerings en stellinge, vet letters en tussen aanhalingstekens, om die gruwelike van wat deur my geskryf is, te bewys, waarby amper niemand en niks ontsien is nie. Hy meen dis ’n klap in die gesig van die predikante wat (reeds) in Afrikaans preek. Taal, verklaar hy, is die middel tot ’n doel. ’n Mens is die handigste met die instrument wat jy dag vir dag gebruik. En dan gebruik die ouderling die volgende anekdote – ’n skoen wat ds Alers toe aantrek en wat hom liederlik ontstel … ’n Sekere persoon het dan die preek van ’n sekere predikant so danig geniet en toe die lidmaat gevra is wat dit nou eintlik was wat hom so getref het, was die antwoord: “Ag, die sing van Psalm 84 was tog vir my so mooi!” As Ds Alers maar dikwels met sy gemeentelede gesels oor sy Hollandse preke, en nie die skranderstes daarvoor uitsoek nie, sal daar vir Sy Eerwaarde ’n ander duisternis opgaan.

Oudl Willemse verklaar in Januarie dat hy bereid is om sy Jammer dat Sy Eerwaarde hom nog steeds bedien van Hollands terug te trek en in die plek daarvan te stel: Die taal van die Godsdiens behoort te wees die taal van die volk, want dit kom presies op dieselfde neer. Ds Alers is dit dus met my eens. En sommer in dieselfde uitgawe antwoord ds Alers weer, nou ook aan ds Johannes Dreyer, ’t Was voor mijn Afrikaanse kollega – ds Dreyer – dat ik het opnam. Ds Alers hou voet by stuk dat die grootste deel van die Kerk tevrede is of selfs voorkeur gee aan Nederlandse preke vir volwassenes. Hyself praat met die kinderen heel eenvoudig Hollands, of zo goed of kwaad ik het kan: Afrikaans.

Maar eers ’n bietjie agtergrondinligting oor die twee karakters. Adam Johannes Willemse (1877-1952) was van die plaas Vlaklaagte naby Tonteldoos op die Mapogsgronde, in die distrik Middelburg. Sy pa, Mattheus Johannes, het as diaken in 1890 op die Algemene Kerkvergadering die eerste pleidooi gelewer vir ons eie teologiese opleiding. Ds Gerard Engelbert Alers (1885-1971) kom in 1921 uit Nederland in Suid-Afrika aan en bedien drie gemeentes in die Hervormde Kerk. Hy was vir ’n tyd voorsitter van die kuratorium vir die teologiese opleiding, en keer in 1932 terug na Nederland. Hy was ook ’n amateurskilder en sy kleurryke olieverf van generaal De la Rey se plaaswoning, Elandsfontein in Lichtenburg, in die 1920’s vorm deel van die Kerkargief en SP Engelbrecht-museum se versameling. Hy was predikant van Gemeente Lichtenburg (1923-1930) tydens hierdie Afrikaans-debat.

Afrikaans word in 1914 ’n amptelike laerskooltaal en in 1919 word dit ’n skoolvak en onderrigtaal tot by graad 12. Teen 1925 is daar reeds baie Afrikaanse skoolhandboeke en is die derde druk van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls gepubliseer. Ouderling-onderwyser Willemse het uit hierdie onderwyskonteks as vurige Afrikaanse taalstryder sy waarneming gemaak en sy gewraakte sin geskryf.

(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)

Oudl AJ Willemse

Ds JGM Dreyer

Ds GE Alers