Johannes 14: 15-20; Johannes 15: 15

Ek het heel dikwels geluister hoe my ouma die Halleluja-lied, Wat ’n vriend het ons in Jesus, gesing het. Ek dink nie ek het altyd die diepte van die lied besef nie. Natuurlik het ek van kindsbeen af besef dat daar niks kosbaarder is as ’n ware vriend of vriendin nie. Daardie vriend of vriendin waarmee jy praat as jy eensaam en alleen voel, die een wat altyd tyd het om na jou probleme te luister, iemand wat opreg omgee, iemand wat jou sou liefhê selfs as jy verkeerd was. Die grootste seer is dan ook as ’n vriend jou verlaat. Jy beleef dan ’n geweldige verlies en verlange.

Dit is hoe Jesus se dissipels gevoel het, eensaam, geïsoleerd en onseker. Veral toe dit lyk asof Jesus hulle finaal gaan verlaat. Hulle het geglo Hy, die Messias, was die een wat Israel sou red. En nou het Hy gepraat van sy vertrek. Kan jy jouself indink hoe hulle gevoel het? Hoekom het Hy hulle gevra om Hom te volg as Hy geweet het Hy gaan hulle verlaat? Die dissipels het gevoel dat hulle ’n kosbare vriend gaan verloor en dat die verlies net té groot gaan wees.

Jesus sien hul angs en vertwyfeling en daarom belowe Hy hulle: Ek sal die Vader vra, en Hy sal julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees (Joh 14: 16). Jesus, wetende dat Hy binnekort na sy Vader sou gaan, het sy dissipels ’n vriend belowe. Iemand wat daar vir hulle sou wees in hul uur van nood. Jesus het belowe dat hierdie vriend vir ewig met hulle sou wees. Dít is die Heilige Gees, God wat in ons harte woon.

Deur die Heilige Gees se inwoning in ons, het ons almal steeds ’n Vriend wat in ons plek wil staan. Mag ons nooit ophou verwonderd staan oor die woorde in Johannes 15: 15b nie: Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.

Ds Mariët Robbertze, Kempten