Johannes 15: 1-8; Galasiërs 5: 22-26

Galasiërs 5: 22-23 gee my geweldige hoop vir die mensdom. Dink net hoe wonderlik sou dit wees as almal so wil leef? ’n Mens kan seker redeneer dit is nie moontlik nie, want ons is maar net menslik en heel dikwels kies ons om presies die teenoorgestelde te doen. Daar is egter een Persoon wat ons hele lewe, ons keuses en ons ingesteldheid anders kleur, en dit is die Heilige Gees in ons.

In die gelykenis van die wingerdstok en die lote, praat Jesus van Homself as die ware wingerdstok, die een wat goeie vrugte sal dra om God se heerlikheid te weerspieël. Jesus is die ware wingerdstok. Ons vind die ware bron van lewe in Hom. Deur sy Gees is Hy weer op sy beurt in ons ingeplant. Soos Hy is, kan ons vrugte dra van ons Hemelse Vader.

Het jy al ooit vrugte sien wat groei nadat dit van die boom of plant waaraan dit groei, gepluk is? Nee, natuurlik nie! Dit is onmoontlik vir daardie vrug om verder te groei as dit afgepluk is. Jesus het daarom gesê: Julle moet in My bly en Ek in julle. Dit is ’n wonderlike belofte dat wanneer ons nader aan Hom beweeg, Hy ook nader aan ons beweeg.

Daar is baie meer aan hierdie belofte. Jesus beweeg nie net nader aan ons nie, Hy verander ons. Hy maak ons vrugbaar as ons Hom toelaat om ons te snoei en om van die begeertes, houdings en optrede ontslae te raak wat ons verhoed om die vrug van die Gees te dra. Sonder God kan ons niks doen nie, maar met Hom kan ons vrugte dra, en daardeur word ons Vader verheerlik. So vervul ons die doel waarvoor ons geskep is – om vrugte te produseer wat aangenaam is vir God.

Kom ons lewe deur die Gees, en laat die Gees ons gedrag bepaal. Kom ons doen dit met ywer en oorgawe. Ons kan, want ons is ingeplant in die ware wingerdstok en meer nog, Hy in ons.

Ds Mariët Robbertze, Kempten