Tydens die afgelope gradeplegtigheid van die Universiteit van Pretoria het drr CB (Bernard) Prinsloo en MJ (Martin) Slabbert van die NHKA, en JS (Jack) Montja van die MRCC hul doktorsgrade ontvang.
Dr Prinsloo
In sy proefskrif Redefining the Church’s Mission: Towards a Contextual and Missional Ecclesiology in Responding to Poverty in South Africa het dr Prinsloo die transformerende potensiaal van ’n kontekstuele en missionale ekklesiologie ondersoek as ’n alternatief vir die gevestigde benaderings van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) met betrekking tot armoedeverligting. Die navorsing integreer ’n historiese analise van die NHKA se betrokkenheid by sosiaal-maatskaplike vraagstukke, ’n teoretiese verkenning van missionale ekklesiologie binne die raamwerk van die missio Dei, asook ’n praktiese toepassing van hierdie beginsels in die Suid-Afrikaanse konteks. Die studie identifiseer die beperkings van tradisionele, institusionalistiese ekklesiologiese modelle en stel ’n paradigmaverskuiwing voor na ’n missionale kerkwees wat gegrond is op gemeenskapsdeelname, geregtigheid en versoening.
Die bevindings dui daarop dat só ’n verskuiwing die NHKA kan herposisioneer as ’n dinamiese, relasionele en diensgerigte geloofsgemeenskap, eerder as ’n sentraalgestruktueerde instelling. Die proefskrif sluit af met strategiese aanbevelings wat onder meer die desentralisering van besluitneming, die bevordering van interkerk- en burgerlike vennootskappe, en die heroriëntering van diakonale praktyke insluit. Die navorsing onderstreep die belangrike rol wat geloofsgemeenskappe behoort te speel in die bevordering van sosiale transformasie en die uitleef van die evangelie binne die kompleksiteite van die hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing.
Dr Slabbert
In sy proefskrif Die Filippense-himne as ’n hermeneutiese sleutel tot die Brief aan die Filippense: ’n Intertekstuele analise en ’n outeurskapattribusiemodel het dr Slabbert die Filippense-himne (Filippense 2: 6-11) ondersoek as ’n sleutel tot die begrip van die breër teologiese en retoriese struktuur van die Brief aan die Filippense. Die navorsing het eggo’s, toespelings en neologismes binne die teks ontleed en aan die lig gebring hoe hierdie elemente tot intertekstuele en intratekstuele dialogisme bygedra het wat die samehang van die brief versterk. Deur gebruik te maak van Patrick Juola se outeurskapattribusiemodel het dr Slabbert die oorsprong van die himne en Paulus se doelbewuste integrasie en die sentrale rol daarvan in die brief uitgelig.
Die studie het tot die gevolgtrekking gekom dat die himne nie bloot ’n liturgiese toevoeging was nie, maar ’n kritieke element van die Pauliniese teologie, wat nuwe insigte in die teologiese diskoers van die vroeë Christelike gemeenskap gebied het en bygedra het tot die breër veld van Bybelwetenskappe.
Dr Montja
In sy proefskrif Commitment of church members as an expression of the understanding of the Missio Dei: A case study het dr Montja ondersoek hoe kerklidmate se vlak van toewyding die afname in lidmaatskap in hoofstroomkerke beïnvloed het. Die ondersoek fokus op die Maranatha Reformed Church of Christ (MRCC) as ’n gevallestudie. ’n Kwalitatiewe ondersoek het eerstehands inligting van kerklidmate opgelewer.
Gebaseer op die bevindinge is die konsep van kerkbywoning, kerkdeelname, vrywilligeraktiwiteite, en kerkbydrae ontwikkel om die verdere afname in kerke te ondersoek. Daar is verder bevind dat nuwe strategieë noodsaaklik is vir die kerk sodat elke lidmaat in staat sal wees om ten volle toegewyd te wees. Dr Montja hoop om die afname in kerklidmaatskap in die MRCC en ander hoofstroomkerke te stuit.