Op 13 Mei 2018 maak Gemeente Pretoria hul kanselbybel in Du Toitstraat, Pretoria toe. Sewe jaar later op 11 Mei 2025 word dié kanselbybel aan die kinders van die Gemeente Wonderboom-Suid oorhandig. Hierdie gebaar het as ’n simboliese teken van die voortbestaan en die toekoms van dié samesmelting gedien. Hierdie samesmelting kan slegs deur Een bepaal en onderhou word – ons Here Jesus Christus. Hierdie samesmeltingsgeleentheid van Gemeentes Pretoria en Wonderboom-Suid is deur lidmate en verskeie gaste bygewoon wat ook ander predikante ingesluit het.

Dr Christo Pretorius het die erediens behartig en beklemtoon dat die toekoms van só ’n samesmelting, en uiteindelik van die hele Kerk, slegs in die hande van Een is: Jesus Christus, die enigste Een wat die toekoms bepaal en verseker – die Een wat die sleutel daarvan hou. Jesus Christus is dié sleutelhouer van sy bruid en haar toekoms en daarom moet ons reeds in die sekerheid daarvan lewe. Dit is treffende woorde vir ’n gemeente wat op die rand van ’n splinternuwe avontuur en verhouding met mekaar staan. Na afloop van die gemeentevergadering, seremoniële ondertekening van die ooreenkoms, konstituering van die vergadering, en die herbevestiging van die Kerkraad het almal heerlik saam koffie en tee geniet. Die ete wat deur die gemeente voorsien is, was die perfekte afsluiting vir só ’n besonderse dag.

U kan hierdie pragtige kerkgebou en verwelkomende gemeente by 10de laan 920, Wonderboom-Suid besoek of hulle per e-pos kontak by wboom@nhk.co.za.

(Ds Iwana Hartmann is die NHKA-joernalis en predikant by Gemeente Pretoria-Oos)