Efesiërs 1: 1-23

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is (Ef 1: 3). Hierdie lofprysing aan God Drie-enig weerklink telkens in die eerste en verdere hoofstukke van die Efesiërs-brief. In Christus het die Heilige Gees, wat deur God belowe is, ons as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het (Ef 1: 14).

Binne hierdie oorweldigende goedheid en liefde wat die Vader deur die Gees in Christus aan ons skenk, moet ons ook verstaan dat die Heilige Gees ons wysheid gee en ons geestesoë so verhelder dat ons kan besef hoe geweldig groot die krag van God is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het (Ef 1: 19-20).

Op Pinkstersondag het ons hier met ’n diep geheimenis te doen. God die Vader, Seun en Heilige Gees gee aan ons geloof en oortuiging en krag. Dit is ’n krag wat ons menslike verstand te bowe gaan. Want dit is dieselfde geweldige groot krag waarmee die Vader die Seun uit die dood opgewek het, wat ook in ons werk.

Deur die kragtige werking van die Heilige Gees ná Pinkster ontvang ons wysheid en word ons geestesoë só verlig dat ook daardie geweldige groot krag in ons lewe beskikbaar is. Die vraag is of die opstanding van ons Heiland Jesus Christus ons op só ’n manier tot ’n nuwe lewe wek, en ons ons só onder leiding van die Heilige Gees stel dat ons werklik besef met watter groot, almagtige en oorvloedig liefdevolle God ons hier te doen het. En of ons die voorreg aangryp om as nuwe, Geesvervulde mense só te leef dat ons bewus is van daardie geweldige groot krag wat tot ons beskikking is as ons in Hom glo. Mag die uitstorting van die Heilige Gees ons opnuut nuwe mense maak wat uit dié krag leef.

Dr Daan van Wyk (jr), Van der Hoff