Romeine 8: 18-30

Dalk het jy al in jou lewe ’n punt bereik waar jy besef en besluit het nou weet jy nie meer hoe verder nie. Of om dit meer presies te sê: Nou weet ek nie meer waarvoor om te bid nie.

Dit gebeur met geliefdes langs ’n siekbed of sterfbed waar daar ’n worsteling is met lewe en dood. Die een wat siek is, kry geweldig swaar, ervaar intense pyn, smag na verlossing. Wat bid ons wat om die siekbed of sterfbed staan? Ons weet nie. Ons het lank gebid: Here, maak asseblief gesond. Ons het gebid: Here, laat u wil geskied. Mag ons bid: Here, verlos hierdie geliefde en neem hom of haar na U toe?

Die apostel Paulus hou in die agtste hoofstuk van die brief aan die Romeine diepgaande rekening met die intense gebrokenheid van hierdie wêreld. Die lyding wat ons nou moet verduur, kan nie opgeweeg word teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Gelowiges sug om van die verganklikheid bevry te word. Maar as jy nie meer weet wat om te bid of waarvoor om te vra nie, gee dit aan die Gees oor. Hy pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie.

Dit geld straks ook vir minder ernstige maar tog baie moeilike besluite wat ons moet neem. ’n Predikant wat nie weet of hy of sy ’n beroep moet aanvaar of nie. ’n Jongmens wat nie weet watter loopbaan om te kies nie. As ons gebid en gevra en gesmeek het en die wil van God vir ons lewe bly onduidelik, vertrou die Gees wat in ons plek vir ons pleit by die Vader.

Dr Daan van Wyk (jr), Van der Hoff