Johannes 20: 19-23
Ons lewe in hierdie gebroke wêreld waar daar altyd hartseer en onregverdigheid sal wees. Daar is ouers wie se kinders in motorongelukke sterf, daar is geliefdes wat koelbloedig doodgeskiet word, daar is gesinsmoorde, armoede, werkloosheid, honger, haat, geweld, liefdeloosheid en verbitterdheid. Dit is alles deel van ons leefwêreld. Wat maak ons as hierdie uitdagings oor ons spoel? Dikwels onttrek ons, ons sluit onsself af van die res van die mensdom. God het die mens nie geskape om eenkant en alleen te leef nie. Ons behoort deel te wees van ’n gemeenskap van gelowiges.
Ná die teleurstelling van Jesus se dood maak sy dissipels ook so. Hulle was spreekwoordelik teen die grond, met geen hoop vir die toekoms nie. Hulle het in hierdie Jesus geglo. Hy sou hul lewens baie makliker maak, en toe spat al hul drome aan skerwe met die kruisiging. Hulle was selfs vir hul eie lewens bang, want dalk sou die mense wat Jesus gekruisig het, hulle ook kom soek. In daardie uitdagende omstandighede raak hulle so bang dat hulle wegkruip. Hulle sluit hulself in die donker bovertrek toe. Hulle is seergemaak, teleurgesteld en bang.
Op hierdie punt, waar die dissipels op hul swakste en eensaamste is, tree God deur sy Gees in hul werklikheid in. Dit was die dissipels se absolute laagtepunt van die laaste drie jaar. Daar waar hulle wegkruip van mense, tree Hy deur slot en grendel in hul nood in. Hy het die vrese en hartseer van daardie mense baie goed geken en verstaan, en daarom staan Hy meteens daar. Sy eerste woord aan hulle is nie ’n woord van verwyt of veroordeling nie, maar ’n woord van liefde en troos. Hy sê: Shalom – Vrede vir julle!
As jy vandag alleen voel, as jou omstandighede veroorsaak het dat jy jouself onttrek het van die samelewing, dan bring die Heilige Gees die trooswoord. Hy kan deur die pyn, smart en alleenheid in ons lewe inklim met die trooswoorde: Vrede vir julle! Hoor dit vandag met jou hele wese. Vrede vir jou!
Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding