Openbaring 4: 1-11

Daar is soveel materiaal en insigte oor die Drie-enige God in die laaste boek van die Bybel. Openbaring is ’n unieke boek, of brief. Die briefvorm kom die duidelikste in hoofstukke 3 en 4 aan die lig. Briewe aan die sewe gemeentes van Klein-Asië was bedoel om aan die gemeentes voorgelees te word. Alhoewel die apokaliptiese styl vir ons vreemd en moeilik is om te verstaan, het die gelowiges van daardie tyd baie geput uit die inhoud van die Openbaring.

Johannes sien die deur van die hemel oopmaak. Daar is ’n stem wat hom roep: Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur (Op 4: 1). Deur die Gees word hy meegevoer na die hemel. En dan, in hoofstuk 4, verskyn God (die Vader) op die toneel. God die Vader sit op die troon en Hy regeer oor alles en almal. ’n Sterk boodskap vir mense wat deur die werklikheid van die tyd blind geraak het vir die almag van God. Hierdie vertelling wil ons herinner dat God bestaan en dat Hy steeds in beheer is. Ons leer dat al kan ons nie die Vader sien nie, Hy altyd naby aan ons is. Hy is deel van ons daaglikse werklikheid.

Die eerste gesig wat Johannes in die hemel sien, is: Ek het gesien daar staan ’n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand (Op 4: 2). Die troon is versier met edelgesteentes. Die troon is duidelik ’n teken van God se mag, koningskap en heerskappy. Die troon sê Hy is die Skepper en Heer van alles wat bestaan. Hy gee waarlik om vir die mens. Daarteenoor gee die leiers van die wêreld maar min om vir regverdigheid en billikheid. Dit is werklik elkeen vir die eie self.

Michael Gorman skryf in sy boek oor Openbaring dat die eie ek en my belange en begeertes dikwels die grootste uitdaging vir God se heerskappy is. Is ek en myne groter as God die Vader? Gaan kyk mooi en versigtig in die spieël van jou lewe.

Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding