Openbaring 5: 1-14

Aan die begin van hoofstuk 5 word die rustige toneel van hoofstuk 4 versteur. Ons sien God die Vader met ’n boekrol in sy hand. Die boekrol is voor en agter vol geskryf. Dit is met sewe seëls goed verseël. ’n Engel met ’n harde stem roep en vra of daar iemand is wat waardig is om die seëls te breek en die boekrol oop te maak. Maar daar is niemand nie, nie op die aarde of onder die aarde nie. Johannes bars in trane uit.

Die lesers vra onwillekeurig: Hoekom huil Johannes so? Die boekrol in God se hand bevat die goeie en gelukkige afloop van die totale geskiedenis van God die Vader se skepping. As die boekrol oopgemaak kon word, sou God die Vader se goeie plan vir die skepping uitrol. Dan sal daar weer harmonie, vrede en ware geluk op aarde wees. Johannes huil, want hy ken die stukkende skepping. Hy ken die gemeentes se stryd, swaarkry en versoekings. Hy hoor in sy geestesoor die hulpgeroep van die aarde af: Hoe lank nog, Here?

In hierdie krisis, waar geen mensehand kan help nie, tree Jesus tot die mensdom se redding na vore. Dit is ’n duur prys om te betaal. Jesus, wat God is, moet mens word. Toe geen mens kon nie, het Hy uit liefde vir ons ingetree. Soos God die Vader se handelinge vir ons verstand te groot is, is God die Seun se liefdevolle optrede ook te groot om ten volle te verstaan. Met dié dat Jesus namens ons die boekrol gaan oopmaak, word ons gered.

Openbaring sê God die Seun is heerser oor die konings van die aarde (Op 1: 6); Hy is die een wat die doderyk oopsluit (Op 1: 18); Hy is die een wat die deure na die ewige lewe oopsluit (Op 3: 7); Hy oorwin die twee diere wat die mensdom bedreig (Op 17: 14); Hy oorwin Satan self (Op 19: 10 – 20: 20). Hy is die Alfa en die Omega en ook die Een wat dood was, maar opgestaan het tot in ewigheid (Op 1: 18).

Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding