Openbaring 1: 12; 2: 1; 3: 19
Openbaring praat op verskillende manier uitgebreid oor die Seun van God. Vandag leer ons dat Jesus ná sy hemelvaart nie weg is nie. Sy Naam is Immanuel en Hy beloof om vir ewig by ons te wees (Ef 4: 10). In Openbaring 1 en 2 word hierdie werklikheid beklemtoon met die simboliese wandel tussen die kandelare. In die brief aan die gemeente in Laodisea leer ons dat Jesus nie weg is nie. Hy is steeds by sy kerk. Dit is moeilik om dit te verstaan en te verduidelik, maar God is die Gans Andere.
Die feit dat God die Seun tussen die kandelare wandel, is vir ons vandag ’n geweldig troosvolle wete. Ook die kerk van vandag is nie alleen nie, God die Seun wandel gedurig tussen ons. Ons leer reg deur die Bybel dat gehoorsaamheid aan en geloof in God Drie-enig nie beteken dat ons geen aanvegting, beproewing of versoeking sal ervaar nie. Ons is nooit alleen nie, Hy is altyd saam met ons. In Psalm 23 lees ons dat selfs al gaan ons deur ’n dal van doodskaduwee, Hy ons nie alleen sal laat nie. Hy waak gedurig oor ons en hou ons styf in sy hand vas. In die briewe lees ons verder dat Hy alles van ons weet. Hy ken ons deur en deur, omdat Hy vir ons lief is.
God het ons geskep, want Hy wou nie alleen wees nie. Ons is relasionele wesens. Ons bestaan in verhouding met Hom en met mekaar. As gevolg van ons sonde het daar ’n breuk in ons verhouding met God en ons naaste gekom, maar deur die verlossing in die Seun van God is ons verhouding met Hom en mekaar herstel.
In Openbaring sien ons wie die Seun van God is en wat Hy doen. Hy wys vir ons wie die Vader is en wat Hy doen. En Hy praat met ons oor die Heilige Gees van God wat aan elke gelowige gegee is.
Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding