Johannes 16: 7-15
Afskeid neem is meestal nie maklik nie. Veral wanneer onsekerheid die pad vorentoe versluier. Hierdie onsekerheid wek vrae: Wat wag vir ons? Waarheen is ons op pad? Hoe gaan ons sonder mekaar oor die weg kom? Sulke vrae woel in ons gees en gemoed. Dit wek kommer, weemoed, weerstand en verwyte. Dink aan ’n oupa en ouma wat migrerende kinders groet, vriende en vriendinne wat die familiehuis verkoop en elders gaan aftree, ’n lewensmaat op sy of haar sterfbed. Ons beleef gereeld oomblikke van afskeid.
Weliswaar ook Jesus se dissipels. Jesus kondig aan dat Hy weggaan, en vir die dissipels is dit ’n ramp. Ook hulle vra wat word van hulle. Hulle vra na die hoe van nou en die waarheen van môre. Hul fokus is op die onmiddellike, maar dan verduidelik Jesus dat sy weggaan hulle nie weerloos en koersloos laat nie. Dit is beter dat Jesus liggaamlik weggaan, want dan kom God die Gees, die Trooster. Die koms van die Heilige Gees kondig enersyds die voltooiing van Jesus se verlossingswerk aan, maar ook die begin van ’n nuwe seisoen: die werk van die Heilige Gees.
Dit is die werk van die Heilige Gees om die verlossingswerk van Jesus te verduidelik en ons daarmee te vertroos, om dit effektief ook in ons lewens te maak. Ons is verlos van die sonde en die dood, van oordeel en helse verlatenheid. Hierdie verlossing is egter nie net ’n herstelde toestand nie, ons is nie maar net siekes wat genees is nie. Dit is bedoel as bemoediging en troos, want Jesus weet dat sy dissipels agterbly in ’n vyandige wêreld – ’n wêreld wat ruk en pluk aan ons bestaan.
Deur die Gees van Jesus Christus word die kerk verseker dat die ruk en pluk en vyandskap van die wêreld nie die finale deel is nie. Die vyandskap van die wêreld en beproewings van die bestaan is tydelik. Deur God die Gees word ons verseker en vertroos dat ons deel het aan die nuwe lewe, die nuwe koers wat God die Vader in Jesus Christus begin het.
Gesang 430
Dr Christo Pretorius, Pretoria / Wonderboom-Suid / Hervormde Teologiese Kollege