Johannes 14: 15-26

Ongeveer 60 jaar na Jesus Christus se aardse werk klink die Evangelie van Johannes en die vraag: Wie is Jesus? Hierop volg ’n erkenning of ontkenning dat Jesus die Messias is. Vir gelowiges is dit nie maklik om aan die belydenis getrou te bly nie, veral in ’n wêreld van storms en onsekerhede. Daarom skenk God sy Gees.

Trouens, Jesus verseker ons dat Hy deur die Voorspraak, die Heilige Gees, teenwoordig sal wees en in die Evangelie klink die woord Parakleet. Dit beteken die een wat nader geroep word, wat raad gee, ’n helper en advokaat. Die Heilige Gees help die gelowige om Jesus Christus se werk, sy sterwe en opstanding te verstaan.

Met die opstel van die Niceense geloofsbelydenis in 325 nC was die kerk juis daarop bedag dat die band tussen Christus en die Heilige Gees nie gebreek word nie. Die Heilige Gees bring nie ’n nuwe waarheid nie, maar bou voort op die waarheid wat in Christus geopenbaar is. Dit bewaar gelowiges teen ’n opvatting wat die gees van die mens as bron van openbaring en kennis maak. Ons moet daarvan bewus wees dat die mens ingestel is op sy eie belewenis, sy eie ervaring, en dat dit die bron van ’n nuwe openbaring of nuwe waarheid wil maak soos ons in die valse kerk vind.

Die Heilige Gees is agter die Advokaat, die Helper, wat ons verseker dat alles wat nodig is vir ons saligheid, in Christus geopenbaar is en Hy leer ons wat dit beteken.

Gees van God wat in my woon, breek die Woord vir my.

Gees van God wat in my woon, kom en heilig my.

Troos my, sterk my, leer my, lei my.

Gees van God, kom heilig my – breek die Woord vir my.

Gees van God wat lewend maak, vul my meer en meer.

Gees van God wat lewend maak, vorm my tot U eer.

Troos my, sterk my, leer my, lei my.

Gees van God, vul my al meer – vorm my tot u eer.

(Gesang 442: 1 en 2)

Dr Christo Pretorius, Pretoria / Wonderboom-Suid / Hervormde Teologiese Kollege