1 Johannes 2: 18-27

Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle ken almal die waarheid (1 Joh 2: 20).

Wat beteken dit as iemand gesalf is? In die Ou Testament is profete, priesters en konings gesalf met ’n reukolie wat nie net op ’n persoon se kop geplaas is nie, maar afgeloop het oor die hele lyf. Salwing het drie betekenisse:

  • Uitverkiesing en afsondering: God kies en sonder ’n persoon uit vir ’n bepaalde opdrag.
  • Toerusting en bekwaamheid: God verseker die betrokke persoon dat Hy aan hom die gawes en bekwaamheid sal gee om sy taak te kan uitvoer. Die Here roep en rus toe!
  • Sendingopdrag: God stuur die persoon met ’n bepaalde opdrag en taak wat vervul moet word. Sodoende word God se wil aan ander bekend gemaak.

Johannes herinner ons dat ons gesalf is en dat die Here ons uitverkies het om ’n taak in die wêreld te vervul. Hy rus ons toe deur die Heilige Gees om hierdie taak te kan uitvoer. Ons word veral toegerus deur God se Woord met prediking, Bybelstudie en stiltetyd. Ons word duidelik uitgestuur om daadwerklik profete, priesters en konings te wees wat die evangelie van Jesus Christus verkondig.

Ons ken die waarheid van die evangelie. Daarom is dit belangrik dat almal hul lig laat skyn in die wêreld. Ons bly in Christus en in alles wat Hy ons geleer het. Deur die salwing van die Heilige Gees is daar aan elke gelowige hierdie opdrag gegee en is dit ons plig om dit uit te leef en oor God se waarheid te getuig. Dit beteken selfbekering en dat ons leef soos begenadigdes – verlos van die sonde en gefokus om te bou op dit wat goed is. Gaan leef dus vandag, en elke dag, as ’n gesalfde deur die Heilige Gees en onthou om voort te bou op dit wat goed is.

Gebed

Here, help my om vandag as gesalfde op te tree en alles vir u koninkryk te gee. Amen.

Ds Henk Labuschagne, Silverton