Romeine 12: 1-8
Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen (Rom 12: 1).
Priesters in die Ou Testament se taak was om te offer, te bid en die volk te seën. Dit alles was deel van die heenwysing na Jesus Christus wat Homself geoffer het, vir ons intree en ons laat deel in die seëninge van die Here.
Ons het steeds hierdie taak om ook as priesters te offer, te bid en die Here se seën teenoor ander uit te leef. Romeine 12 roep ons op teen die agtergrond van Jesus Christus se opoffering van sy lewe. Wat is ons reaksie hierop? Hoe moet ons nou leef? Ons wy onsself as lewende dankoffers aan die Here toe. Ons bring nie soos in die Ou Testament ’n lam of iets anders na die Here toe nie, maar plaas eerder onsself as dankoffer in die Here se diens. Bedoelende ek stel myself en alles wat ek het (my gawes, talente, middele, tyd), in diens van die Here tot sy eer en tot uitbou van sy koninkryk. Daarom maak ek nie soos die wêreld om my nie, ek laat my gedagtes vernuwe, ek skuif my wil opsy en lewe volgens God se wil. Ek is nou ’n lewende, heilige offer aan God toegewy.
Daardeur volg die ander twee elemente van priesterskap ook. Ons bou die liggaam van Christus deur voortdurend vir mekaar te bid, mekaar te ondersteun in beproewings en te deel in mekaar se vreugde. Laastens is ons as Christen-priesters vir mekaar ’n seën. Ons is vir mekaar tot seën wanneer ons as lewende offers gehoorsaam aan God se Woord leef. Ons seën mekaar ook met ons gawes en talente en middele waarmee die Here ons geseën het.
Gaan leef vandag as ’n Christen-priester met Christus as jou Hoëpriester.
Gebed
Here God, hoe kan ek U dank vir u groot liefde deur Jesus Christus? Lei my om elke dag ’n lewende en heilige offer te wees wat vir U aanneemlik is. Amen.
Ds Henk Labuschagne, Silverton