Hebreërs 12: 1-12

Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ’n stryd om lewe of dood geword het nie (Heb 12: 4).

Wat is die take van ’n koning? ’n Koning moet met wysheid sy gebied en onderdane bestuur en beskerm. Ons Koning, Jesus Christus, beskerm en lei ons deur sy Woord en Gees. Hy beskerm en bewaar ook die kerk en laat ons deel in sy oorwinning.

As Christene het ons ook die taak om te beskerm en te bewaar. Ons het die waarheid van die evangelie ontvang, en moet dit beskerm deur dwaalleraars teen te staan. Ons roeping om te beskerm, sluit ook in dat ons stry teen ons sondige natuur, die wêreld en die bose. Stry jy nog teen die sonde? Of raak jy gemaklik met sonde in die wêreld en in jou eie lewe? Christus het met sy lewe betaal sodat ons kan lewe – daarom kan ons nie ligtelik staan teenoor sonde nie.

In Hebreërs 12: 4 kry ons dan hierdie oproep: Ons moet enduit volhou om te stry teen die sonde. In alle aspekte van ons lewe en waar ons onsself bevind. Ons moet voortdurend ons lewens terugdraai na God toe – vra na ons Koning se wil en sy Woord bestudeer.

Uit eie krag kan ons nie die stryd volhou en die oorwinning behaal nie, maar deur die krag van die Here kan ons wel. Deur Christus is ons meer as oorwinnaars. Daarom is dit belangrik dat ons biddend smeek om sy hulp in hierdie stryd. Ons het die vaste geloofsvertroue dat die Here ons bewaar, daarom kan ons alles in die stryd werp om te stry teen die sonde. Hou Jesus Christus voor oë, dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

Gebed

Ons Hemelse Vader, dankie dat ek meer as oorwinnaar is deur Jesus Christus. Lei my om alles in die stryd te werp om teen die sonde en bose te stry. Dankie dat ek dit nie uit eie krag moet doen nie, maar dat U my versterk deur u Heilige Gees. Amen.

Ds Henk Labuschagne, Silverton