2 Timoteus 4: 1-9
Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee (2 Tim 4: 1-2).
Wat is ’n predikant of dominee? Iemand wat net op ’n Sondag werk soos die bekende grappie? Heel eerste moet ons verstaan dat die amp van predikant ’n voortsetting is van die amp van ouderling en daarom word ’n predikant ’n lerende ouderling genoem.
Wat is die taak van die predikant dan? In die Woord van die Here vind ons die beginsels van die dienswerk, alhoewel nie baie praktiese riglyne oor hoe dit gedoen moet word nie. Die fokus is meer op wat gedoen moet word, as hoe dit gedoen moet word. Die dagboek en taak van ’n predikant kan daarom baie verskil van gemeente tot gemeente, maar die beginsels bly dieselfde. ’n Dienaar van die Woord soos vanuit die Nuwe Testament afgelei, het drie bepaalde funksies en dit is: om te leer, te regeer en te dien.
In 2 Timoteus word die dringendheid waarmee hierdie opdrag uitgevoer moet word, beklemtoon. Christus is Koning en Regter en Hy kom weer om te oordeel. Die tyd is min, die werk is baie en daar is baie aanvalle en teenstand teen die verkondiging van die Woord. Bid onophoudelik vir ons predikante wat die Woord en gesag van Christus moet bedien. Bid dat hulle altyd die nabyheid van die Heilige Gees sal beleef en met vrymoedigheid die Woord kan verkondig en kan bly by die waarheid van die evangelie.
Gebed
Dankie, Here, dat U predikante skenk vir ons Kerk om te kan volhard in die bediening van u Woord. Skenk aan hulle die wysheid en die krag om hul gemeentes toe te rus, sodat u kerk kan groei in geloof en goeie werke. Ons loof en eer U in alles. Amen.
Ds Henk Labuschagne, Silverton