1 Korintiërs 2: 6-16

Die Apostoliese Geloofsbelydenis beskryf God as die Skepper en brei uit oor Jesus. Dan volg net: Ek glo in die Heilige Gees. Verder niks. Selfs oor die kerk word meer gesê. Ook die Bybel vertel baie meer oor God en Jesus as oor die Gees. Daar is nie verhale oor die Gees nie, net verwysings na die werking van die Gees. Om die werking van die Gees te ervaar, is vir elke mens anders.

Die Gees is vry en kan nie vasgevang word in menslike idees of leerstellings nie. Met groot vryheid is daar die geleentheid tot misbruik. Met Die Heilige Gees het vir my gesê, kan niemand stry nie. Dit het al gelei tot vreemde verskynsels in die Christelike geskiedenis. Die gawe van onderskeiding is daarom nodig. Vir Paulus is die onderskeid wat van God is en wat nie van God is. Van God kom wysheid. Wat nie van God kom nie, is dwaasheid. Vir mense is die wysheid van die wêreld dikwels meer logies as dié van God. Die verskil is veral duidelik wanneer dit kom by mag – wie mag uitoefen, oor wie en hoe dit uitgeoefen word.

Vir God is dit dwaasheid, maar in die wêreld is mag ’n kragtige dryfveer. Wie volwasse is in die geloof, kan onderskei en God se wysheid kies bo mag en kies vír geloof, hoop en liefde. Daarin word die werking van die Gees ervaar. Mense wat volwasse is in die geloof, het nie noodwendig spesiale gawes nie. Waaraan hulle geken word, is die denkwyse van Christus (1 Kor 3: 16). Christus is die inhoud van God se wysheid. Dit is die geheim, die misterie van God – so ánders dat die wêreld dit nie verstaan nie. Om hierdie misterie te begryp en daaruit te lewe, het mense hulp nodig. Die Gees help om verder te kyk as wat die oog kan sien – om iets van God se genade en maniere van doen te begryp en daarin te lewe. Die Gees is die lewensgids wat lei, insig gee, inspireer en troos.

Gebed

Kom, Heilige Gees, vul ons met u liefde. 

Prof Yolanda Dreyer, Emeritus